Skerwe uit die Ontstaan van 'n Oorledige Self

  • 1

Breyten Breytenbach in gesprek met sy kuns: 'n kort betragting oor die be-teken-is

Skerwe uit die Ontstaan van 'n Oorledige Self / 
Fragmented Emergence of a Late Self 
Breyten Breytenbachkunsbreytenklein5
Die Breytenbach Galery
Breytenbach Sentrum, Wellington
8 September tot 17 Oktober 2015

Aan die bopunt van die trap na die kunswerke van Breyten Breytenbach se uitstalling in die galery van die Breytenbach Sentrum in Wellington is daar, eers, die titel van die uitstalling: Skerwe uit die Ontstaan van 'n Oorledige self / Fragmented Emergence of a Late Self.

Daar is dan ook twee geraamde tekste: 'n gedig en 'n stuk prosa, albei met skilderye langs en binne die tekste.

kunsbreytenkleinDie gedig, wat mens met 'n bietjie moeite lees, omdat dit in Breyten se handskrif geskryf is, se titel is “die aanpraat van die skilderye aan die vooraand van hulle blootstelling (ter afskeid)”. Hierin praat Breyten met sy skilderye, en ook met homself, want daar is verskeie “portrette” van homself op die 14 groot doeke (116 x 146 cm). Hy het homself natuurlik al in 1964 voorgestel aan lesers van sy gedigte.

In hierdie gedig spreek Breyten (Blackface) die skilderye in die galery aan. Dis 'n belangrike gedig – ten opsigte van wat die digter vir sy skilderye sê, maar ook ten opsigte van wat hy vir homself sê, veral tussen die hakies: "(ter afskeid)". Hy sê dikwels aan die einde van sy bundels totsiens, maar dis net tydelik. En mens kan nie dink dat dit die einde van sy skilderwerk is nie. Dis net 'n selfnegering.kunsbreytenklein2

Wat hy hier vir sy skilderye waarsku en sê, is dat hulle "elkander" (vir die kykers) "die plesiertjie van 'n kyk" moet gee, hulle waardig moet gedra, en

moenie aanstoot neem as betragters
voor julle kom staan en giggel
en die gek met julle skeer nie –
wat sou hulle ook kon weet
van tot beelding kom se sleepsiektes
en hoe sal hulle julle gebreke kan lees.

En "mits dese gee ek julle oor aan die oë van die vreemdes", want "wat sou beloerders ook kon verstaan/ van voortlewe …". Woorde soos "kyk", "betragters", "beloerders", "die groustaar van 'n oog …", "oogskille", en ander assosiasies met kyk, kom oral in die skilderye voor. Jy sien die baie oë, asof die kunstenaar jou aanhoudend sê: kyk, kyk, kyk … En die digter sê dit. 'n Mens sal nie verstaan hoe dit alles inpas nie. Ook die afwesigheid van die volle kyk, soos byvoorbeeld die beroemde skrywer JM Coetzee – met net een oog.

kunsbreytenklein3Dan bieg hy ook teenoor hulle, die skilderye: "nie een van ons kom ongeskonde uit die omgang/ en nou die oogskille nie", en hy sal later voorgee dat hy hulle nie ken nie. Die oog wat nie kan sien nie, die handgeskrewe teks van die digter, wat met ‘n bietjie moeite gelees word – nie, soos mens sou verwag, gedruk is nie. Dis alles ook natuurlik aanduidings van die selfnegering van die digter en skilder. Vir die skilderye sê hy:

as ons mekaar weer raakloop
sal ek voorgee ek ken julle nie
al sou ons wel verder as die voue onthou
julle en ek
dat die hand wat ek op julle gelê het
dalk onhandig was
(wat sou ek tog kon weet van aai)
maar kwasgedoop in liefde.

Maar al is die skrif teen die muur, en die selfportrette nie altyd mooi nie (soms belaglik, soms bevrees, soms toe-oog), skryf hy is alles in liefde geverf.

Nietemin vra hy om vergiffenis (ironies?):

weet egter ook dat ek in die nanagspieël 
die nagmerrie van berou sal hoor runnik ...

kunsbreytenklein6In die gedig en in die skilderye sien ons die metafoor. Dis waarna ons moet kyk om ‘n bietjie beter te kan verstaan.

Die ou Griek Aristoteles het gesê dat die metafoor die waarmerk van die ware digter is. En deur die gedurige metafore in die gedig en die skilderye kom ons miskien uit by betekenis (be-teken-is).

 

kunsbreyten9

kunsbreyten12

kunsbreyten2

kunsbreyten7

kunsbreyten11
Foto's: Madelie Coetzee

  • 1

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    "Late" word seker in die titel in die sin van "oorlede" gebruik. In Afrikaans word dit dan "oorlede self". "Oorledige self" beteken iets anders.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top