Bokomo-brekfisbrief; 29/04/2010: Lampies en kaggels en dinge

  • 0

Oester se brief oor die lampies en Listers en goeters het my ver laat terugdink aan my kinderjare op Elliot. Die dorpie het sy eie kragstasie gehad op die draai anderkant die rivier. Saans, as ek moeg geloop was deur die stofstrate en gaan slaap, het ek sy doef-doef-doef gehoor tot ek wegraak. Of hy bedags ook gewerk het weet ek nie, want mens het hom nie gehoor deur die dorpie se daaglikse lawaai nie. Ons het 'n koolstoof gehad, niks elektries nie, behalwe die lampies. Die geiser was 'n ou klein tenkie bokant die bad waarin jy moes vuur maak om 'n bietjie warm water te kry. Ek meen party mense het dit 'n "donkie" genoem. Partymaal was daar die gesis van 'n primusstofie uit die kombuis hoorbaar as my ma koeksisters gemaak het.

As ons op my oom se plaas buite Ugie gaan kuier het, daar in die hoek van die berge, het ek bedags deur die veld geloop en vir rukke onder die treurwilgers gesit langs die helder stroompie wat uit die berge kom. In die aande het die grootmense in die sitkamer gesit en gesels en het ek ook bygesit om darem 'n paar tande getel te kry. Maar gou het die paraffienlantern my aan die slaap gesus. Hy het met 'n sakkie gewerk, net soos die latere gaslampe en af en toe pomp hulle hom, soos 'n primusstoof. Dit het van die plafon af gehang.

Wintermaande by die huis was daar 'n groot kaggelvuur, as jy te naby sit word jou bene te warm en moet jy terugskuif. Ek moes soms hout kap en steenkool aandra vir die kaggel. Partykeer het ons daar (dit was in die eetkamer) by die tafel gesit en dambord speel, met my pa wat die een na die ander skyf van sy geliefde beestong fyn kou en insluk. Partykeer het ons kinders darem ook 'n stukkie gekry.

Baie jare later - ek was al diep in my twintigs - bly ons in Redhouse buite PE op die wal van die Swartkopsrivier. Daar het ek en my swaer soms gaan visvang op die houtkaai wat saam met die huurhuis gekom het. Hy het 'n lekker gaslamp gehad, maar maggies, die muskiete het ons bykans opgevreet. Ek dra nou nog die letsels.

Groete,

Tiens

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top