Haar naam is Afrikaans. ’n Mooie meisie. Sag op die oor en ... Sy is jonk nog. Haar Pa en Ma was Hollanders en sy is as ’n probleemkind beskou. Sy is dikwels ’n “kombuiskind” genoem. Haar familie is deesdae darem lief vir haar. Haar groot- en oerouers was Wes-Germane. Sy het vroeg reeds rooi hakskeentjies gekry en het ’n hele paar minnaars gehad. Wyl sy meesal Hollanders gevry het, het sy ook skelm verkeer met ’n Maleier, Portugees, Engelsman, Duitser en so.
Gegewe haar ietwat terterige herkoms is sy nie ’n komplekse meisie nie. Aards en kan ’n ding sê soos dit gesê moet word.
Vele mense probeer haar op die regte pad hou. Hoe sy moet praat en watter uitspraak sy moet hê. Hoe sy ’n propperse meisie moet wees en welke woorde sy mag en nie mag gebruik nie. Die probleem is dat sy ’n wil het. Steeks.
Dwars. Ten spyte van al die gemor en gebrom doen sy haar eie ding. Vat koers in ’n eie rigting in.
Sy was op ’n stadium “gekerk” ... hier in die jare 1933. Tot die priesters se ergernis het sy “los" geraak en daar is ’n paar kleingoed gebore. Sy het ’n kind in die Kaap, in Jozi, Namibië, Pretoria, en so. Nie al haar kinders is wit nie. ’n Jollie bakleierige spul.
En dan het sy nogal ’n digterlike aard aan haar. Kan Sensitief raak. En stroperig as die gees haar vat. Baie van diegene wat liedjies vir haar maak hou van paarrym. Daar is darem van haar minnaars wat besef dat sy nie meer so dom is nie.
Tegnies is sy nie baie goed onderleg nie ... sy het probeer met “knormoer” en so maar niemand verstaan haar as sy so praat nie. Hulle dink sy knor en is de moer in. Dat sy ’n knormoer gooi.
En sy is nie rekenaargeletterd nie.
Wil sy mos op ’n dag vir die jongmens verduidelik hoe om ’n takie op diese rekenaar te verrig ...
“Sien, al wat jy hoef te doen is om die uitbreibaretuimelkieslys te kliek.
Dit neem jou na die ‘sketskunsknipbord’. Daar kliek jy op die ‘slimmerdoortjie’ en siedaar! Druk nou net ‘invoer’ en as jy ’n fout maak druk jy ‘beheer’, ‘alternatief’, ‘verwyder’. Daar sal dan ’n 'dialoogvenster’ verskyn. Maklik nè?” Sy word die ongemaklikhede vergewe. Want sien, ons besef almal dat sy nog maar jonk is en dat sy so met die tyd saam sal vorder. So met die tyd saam sal haar woordeskat uitbrei en as sy gebruik word soos ’n hupse meisie gebruik behoort te worre sal sy oorleef. Met ’n swetterjoel kinders wat elk baie lief is vir haar. Sy het ’n pes in afsydigheid. Sy haat dit as mense haar ignoreer. Sy gee nie regtig om as mense haar skeef trek nie. Sy is ewe tuis in die slaapkamer, kombuis, sitkamer en politieke verhoog. Sy hou daarvan om aan kandelare te swaai. En as iemand elke nou en dan die hoepels ’n slag aanklink het sy vrede daarmee.
Die verpleegstertjie seg vir die Oom: “Af met die broekie Oom...ons moet skeer!”
Oom: (Benoud) “Ek dog dis ’n oogoperasie!”
Verpleegstertjie: Oompie, hier staan; ‘Verwyder horingvlies...!’"
Red ’n taal.
HJ