Susan van der Walt

Ek is ’n somers kind, gebore in Oktober, as die jongste van vier. My vroegste herinneringe is aan die Normaalkollege Pretoria, waar my pa registrateur was. Ek begin my skoolloopbaan by Laerskool Oost Eind en is van Standerd 2 in Laerskool Boerefort. Ek matrikuleer aan die Hoërskool Wonderboom. In voorbereiding vir my droom doen ek ’n diploma in Junior Primêre onderwys by die Normaalkollege Pretoria. My eerste pos by Laerskool Krielpark se Graad 2 klas, het my egter gou ontnugter. Daarom begin ek deeltyds die B.Bibl.graadkursus by UNISA. Gedurende die tyd werk ek vir twee jaar by die Normaalkollege se biblioteek en vir drie jaar in die Warmbad Munisipale Biblioteek.

Dis ook hier waar ek my man ontmoet. Ek volg hom na Johannesburg waar ons in 1999 getroud is. Noodgedwonge is ek weer terug in die onderwys, maar in 2001 kry ek ’n pos by Concor, waar ek verantwoordelik is vir die aankoop van skryfbehoeftes, die beheer en instandhouding van die argiewe en verskeie ander verpligtinge. Tans woon ek in Alberton, steeds gelukkig getroud My hondjie Pixie, is die enigste kind in die huis.

Ek kom uit ’n familie van lesers en het reeds op vier begin lees en net nooit weer opgehou nie. Ek het ook ’n groot passie vir fotografie. Deur my deelname aan die ATKV Woordwoekeraars se skryf kompetisies, het ek ’n liefde vir skryf ontdek. Ek skryf ook graag poësie en is tans deel van ’n poësie groep aan die Oos Rand.

Opgedateer/Updated: 2009-09-02   
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za 
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za

Top