Sakkie

Sakkie Spangenberg het in Germiston grootgeword en daar aan die Hoërskool Goudrif gematrikuleer. Na ’n jaar se verpligte militêre diensplig (1970) het hy teologie aan die Universiteit van Stellenbosch studeer (1971–1977). Hier het hy ook sy honneurs en meestergraad in Semitiese Tale voltooi (1977–1979). Hy doseer vir agt jaar Bybelkunde aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (1979–1986). Gedurende hierdie jare werk hy aan sy doktersgraad oor die boek Prediker wat hy onder leiding van professor Jimmie Loader aan Unisa voltooi. Hy skuif hierna oor na Unisa waar hy vir die afgelope 26 jaar die vakke Bybelkunde en Ou Testament doseer. Hy fokus in sy navorsing hoofsaaklik op die verstaan en uitleg van die Bybel, die Israelitiese wysheids- en apokaliptiese literatuur, die Tweede Tempeltydperk in die geskiedenis van Israel, en op die navorsingsgeskiedenis van die vak Ou Testament. Verder interesseer die ondersoek na die historiese Jesus hom en wanneer hy ’n ledige uurtjie het, lees hy graag daaroor. Hy is ’n ywerige voëlkyker en deesdae ook ’n amateur-geoloog.
Top