
Piet Swanepoel
Piet Swanepoel word op 20 Desember 1937 op Bothaville in die Vrystaat gebore. Van kleins af was hy lief vir gedigte, rymelary en voordra. Hy word groot in ’n gemeenskap waar televisie onbekend is, radio ’n luuksheid; waar mense in die aand om ’n tafel by kerslig sit en stories vertel en rympies opsê. Na skool gaan hy Johannesburg toe, waar hy as tremkondukteur werk kry en ook later sy vrou ontmoet, met wie hy op 19 Desember 1959 getroud is. Later gaan werk hy in die goudmyne op Welkom totdat hy terugkeer na die plaas langs die Vaalrivier om sy pa met die boerdery te help. Tussen 1977 en 1992 gee Human & Rousseau sewe kinderdigbundels uit wat uit Piet se pen gevloei het: Rympies vir duimpies, Rympies vir rakkers, Rympiesfontein, Voorslaggies, Hier kom die rympiesman, Klouterboom en By Doringdraai se drif. Hy staan in die gemeenskap bekend as Piet Rympies of die Rympiesman en van sy gedigte word selfs op Potchefstroom se universiteit voorgeskryf vir die dramastudente. In 1981 word van sy gedigte in DJ Opperman se Kleuterverseboek opgeneem, wat deur Tafelberg Uitgewers uitgegee is. In 1982 word nog van sy gedigte vervat in DJ Opperman se Klein verseboek, ook deur Tafelberg uitgegee. In 1989 word nog van sy gedigte vervat in drie digbundels: Trompettertjie, Wieliewalie en Mallemeule, saamgestel deur Pieter W Grobbelaar en uitgegee deur Perskor. In 1990 publiseer HAUM ook van sy gedigte in die digbundel Groen. Hy is tans besig om te werk aan ’n versameling kort stories uit vergange se dae oor transportryers, spoke en ander gedaantes wat algemeen was in die dertiger-, veertigerjare. Hy bly tans op Rondavelskraal (Rympiesfontein) naby Groot Marico, waar hy en sy vrou, Harriet, die tydloosheid van die bosveld geniet. Waar dinge amper nog net dieselfde is as toe Herman Charles Bosman die Marico soveel jare gelede op papier vasgelê het.
Opgedateer/Updated: 2008-09-10
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za
