Philip Breedt

Phillipus Andreas Breedt, gebore 23 Junie 1947, het grootgeword in Pretoria. Hy het gematrikuleer aan die Hoërskool Pretoria-Wes, waar hy onderhoofseun was en uitgeblink het in rugby en redenaarsaktiwiteite. Na verskeie jare in die Weermag en Polisiediens het hy sy graad in landskapsargitektuur verwerf aan die Universiteit van Pretoria. In 1978 het hy verhuis na Kaapstad, waar hy as landskapsargitek gewerk het vir die staat. Hy het baie jare op grondvlak gewerk en van sy beste jare is spandeer in woonbuurte soos Grassy Park en Elsiesrivier. Mettertyd het hy ook sy eie privaat praktyk op die been gebring, maar in 1988 het hy en sy gesin teruggekeer Pretoria toe. In hierdie tydperk het hy begin werk as hoof professionele amptenaar vir die Johannesburgse Stadsraad. In 1992 moes hy aftree as gevolg van ernstige gesondheidskomplikasies wat ingetree het na 'n roetine-operasie. Baie van sy werke is geskryf in hierdie periode van selfondersoek en refleksie. Vandag bly hy saam met sy seun in Kaapstad, waar hy graag baie ure saam met sy honde op die strand verwyl, skryf en soms bietjie terugverlang na sy stukkie grond in Limpopo.


Opgedateer/Updated: 2008-05-20
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za 
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za

Top