Peter Goss is besturende direkteur van ’n nisvakgebied-spesialiskonsultantmaatskappy in krisisbestuur, korporatiewe bestuur, strategiese forensiese ondersoek, opleiding en inlywing. Sy professionele loopbaan strek oor drie dekades, waartydens hy as besturende direkteur/ vennoot / kundige in antikorrupsie-oplossings gedien het in die Suider-Afrikaanse praktyk van die wêreld se grootste professioneledienstemaatskappy, wat hy as hoof: Openbare Forensiese Dienste verlaat het. Hy het ook as adviserende besturende direkteur / senior vennoot en hoofkundige in korporatiewe bestuur en forensiese ouditering gedien in Afrika se grootste inheemse professioneledienstemaatskappy, en as speurder in wetstoepassing in die Suid-Afrikaanse Polisiediens, wat hy as speurinspekteur van bedrogondersoeke verlaat het.
Peter is tans ook professor van Praktyk: Bestuur en Forensiese Ouditkunde aan die Universiteit van Johannesburg in die Kollege vir Sake en Ekonomie in die Fakulteit Regte.
Hy het drie boeke oor sy raadgewende spesialiteite geskryf (Corporate governance and illicit conduct, Fraud and corruption risk governance en Forensic investigations), waaroor hy afgevaardigdes deeltyds aan die Universiteit van Johannesburg en die Universiteit van Pretoria, asook by sakeskole en internasionale meesterklasse onderrig. Hy is gereeld betrokke by openbaresprekersgeleenthede, word as kundige op televisie en radio geraadpleeg, en is bekend vir sy skriftelike mediakommentaar en -ontledings.
Peter is in sy finale jaar van ’n PhD in strafreg aan Unisa en het ’n meestersgraad in strafreg (Unisa), ’n nagraadse BTech-graad in forensiese ondersoeke (Unisa), ’n Nasionale Diploma in Polisieadministrasie (Technikon SA), en ’n Diploma in Kriminele Strafreg en Forensiese Ouditkunde (Universiteit van Johannesburg (UJ)), en het ook die Sertifikaatkursus in Korporatiewe Bestuur (UJ) voltooi.