
Paul Eilers
Paul Eilers (1950 - 2019)
Paul Eilers was meer as 40 jaar gemoeid met die vermaaklikheidsbedryf, en begin sy loopbaan in 1963 as geselskaps- en vragmotorbestuurder, verhoogbestuurder en akteur vir Johan Fourie se toneelgeselskap.
Vir KRUIK speel Eilers in meer as 100 opvoerings van Die laaste van die Takhare en hanteer die regie van verskeie toneelstukke vir al drie destydse Streekrade vir die Uitvoerende Kunste.
Eilers is deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon vir sy regie van Die Vroue van Troje.
Hy was meer as 30 jaar gemoeid met die radiobedryf as omroeper/regisseur: benewens roetine-uitsaaiwerk ook talle radioteater-, kleinteater- en vervolgverhale. Saam met Sarel Myburgh en Cobus Robinson en as aanbieder/regisseur begin hy die oggend-aktualiteitsprogram Monitor. Eilers was ook gemoeid met regstreekse uitsendings van simfonie-orkeste vanuit die Johannesburg Stadsaal en het die eerste regstreekse uitsending van die ARTES-toekennings vir radio vanuit die UNISA-saal behartig.
In 1996 nader Pieter Fourie hom om op te tree as bemarkingsbestuurder vir die KKNK en in Oudtshoorn begin hy Suid-Kaap Stereo, maar dit is sy terugkeer na die verhoog (na amper 20 jaar) in Fourie se armoedsdrama waarvoor Eilers veral onthou word.
Opgedateer/Updated: 2007-06-06
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za
