Paul Alberts

Paul Alberts is in 1946 in Pretoria gebore, en het by Afrikaans Hoër Seunsskool in Pretoria in 1963 gematrikuleer.

In 1965 het hy in Europa gereis en in Parys gewoon.

Hy het as joernalis aan verskeie koerante gewerk - Die Vaderland, Die Transvaler, The Cape Argus en Die Burger. By Die Burger was hy verbonde aan die kunsblad.

In 1975 het hy ’n vryskut-fotojoernalis geword. Sy belangstelling was hoofsaaklik sosiaal-dokumentêre werk. Sedert 1981 het hy hom ook daarop toegespits om sosiaal-dokumentêre fotografie in boekvorm te publiseer.

Nege fotografiese boeke van sy werk is reeds gepubliseer:

  • Die Klein Karoo: 'n Legkaart, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad, 1977 (teks: Abraham H De Vries)
  • In Kamera: Portrette van Suid-Afrikaanse Kunstenaars, HAUM, Kaapstad, 1979 (teks: André P Brink).
  • Children of the Flats, Reijger-Uitgewers, Kaapstad, 1980 (teks: George Gibbs) Hierdie boek is gepubliseer as deel van die Verenigde Nasies se Internasionale Jaar vir die Kind en is internasionaal versprei.
  • The Borders of Apartheid, The Gallery Press, Kaapstad, 1983 (samesteller van die teks: P Alberts)
  • Die Vergete Grootpad (deur Ceres en die Bokkeveld), The Gallery Press, Kaapstad, 1988 (teks: Dene Smuts)
  • South African Military Buildings Photographed: An Historical Heritage, The Gallery Press, Kaapstad, 1993 (samesteller en fotografie deur Paul Alberts; voorwoord deur regter M R de Kock, voorsitter van die Nasionale Monumente Kommissie.)
  • Some evidence of things seen: Children of South Africa, Open Hand Press, Rivonia, 1997. (Voorwoord deur Nelson Mandela; teks deur UNICEF en die National Children’s Rights Committee.)
  • Faces of Age, Kraal-Uitgewers, Brandfort 2005. (In samewerking met die SA Menseregtekommissie.)
  • Buite die Hekke van Eden, Protea-Boekhuis, Pretoria 2090.

Sy werk, tesame met die werk van ander fotograwe, is in talle boeke gepubliseer.

Sy werk is sedert 1975 gereeld in eenmanstentoonstellings in Kaapstad, Bloemfontein en Johannesburg ten toon gestel.

In 2000 is ’n retrospektiewe tentoonstelling van sy werk in die Oliewenhuis-Kunsmuseum in Bloemfontein aangebied. Die tentoonstelling is daarna in die Bensusan-Fotografiemuseum in MuseumAfrica in Johannesburg en in die Sanlam-Kunsgalery in Kaapstad aangebied.

Hy het ook aan ’n verskeidenheid van groeptentoonstellings deelgeneem wat ook in die VSA en Europa aangebied is.

In 2003 is hy deur die Oorlogsmuseum in Bloemfontein opdrag gegee om ’n tentoonstelling saam te stel met die tema van lyding tydens die Anglo-Boereoorlog.

Die foto’s is drie maande lank in 2003 in die Oliewenhuis-Kunsmuseum in Bloemfontein ten toon gestel en daarna in verskeie Europese lande, waaronder in Moskou, Rusland.

In 2005 het hy Die Erwe van Ons Vaad’re as ’n reeks van boeke oor die Afrikaner en sy geskiedenis begin. Die eerste boek was, Die Smarte van Oorlog, deur Emily Hobhouse. Dit was ’n Afrikaanse vertaling van haar beroemde boek, The Brunt of the War and Where It Fell.

Die tweede boek in die reeks, Die Bittereinde Vrede deur prof MCE van Schoor, is op 31 Mei 2007 uitgegee,  en die derde boek in die reeks, De la Rey: ’n Stryd vir Vryheid, deur prof Andries Raath, is op 4 Augustus 2007 bekend gestel.

In Maart 2002 het die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns ’n erepenning aan hom oorhandig vir sy werk as sosiaal-dokumentêre fotograaf. Dit was die eerste keer dat hierdie gesiene instansie ’n fotograaf  vereer het.

Die FAK-toekenning vir Besondere Kultuurprestasie is in 2009  aan Alberts oorhandig. 

Solidariteit Helpende Hand het in 2009 sy Helde van Hoop-toekenning aan Alberts toegeken vir sy fotografiese dokumentasie van armblankes.

Alberts en sy gesin woon sedert April 1993 op Brandfort in die Vrystaat.

Foto: David Goldblatt

Top