Nico Smith

Nico Smith het in 1981, na 16 jaar as professor in die Fakulteit Teologie (die Kweekskool) aan die Universiteit van Stellenbosch, bedank uit verset teen die NG Kerk se voortgaande regverdiging van apartheid uit die Bybel. Hy is deur die NG Kerk voor die keuse gestel om sy standpunte te verswyg, óf ... Hy het gekies om eerder sy vryheid van spraak te behou en sy energie verder te gebruik om die swart bevolking te help bevry uit die onmenslike verdrukking waaraan hulle onderwerp was.

Nico Smith het gevolglik na Pretoria verhuis en "sy geld geplaas waar sy mond was". Hy het as predikant van die NG Kerk bedank en in 'n swart gemeente van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika in Mamelodi begin werk. In 1985 het hy en sy vrou as die eerste twee wit Afrikaners in die township gaan woon. Daar het hy intens by die struggle betrokke geraak en besef dat daar 'n bloedbad vir Suid-Afrika aan die kom is tensy daar met die ANC onderhandel word. Daarom het hy reeds in 1985 met die ANC gaan onderhandel oor 'n moontlike vreedsame weg vir die bevryding van Suid-Afrika.

Terwyl hy in Mamelodi was, het hy 'n deeltydse betrekking as dosent in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) aanvaar, waar hy veertien jaar lank die vryheid van die beoefening van teologie ervaar het - vryheid van ver- en gebondenheid aan die leerstellings van enige kerk - veral die NG Kerk. In 1996 het hy geëmeriteer en hou hom sedertdien intens besig met die stryd tot hereniging van die NG Kerk-familie.

 

Lees "White Among Blacks" in Time Magazine

Opgedateer/Updated: 2007-06-05
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za

Top