
Nettie Pikeur
Nettie Pikeur het haar loopbaan as kosskrywer begin by Vrye Weekblad onder Max du Preez. Daarna het die rubrieke genaamd "Fynproe" in talle ander publikasies verskyn en uiteindelik ses jaar gelede op die lessenaar van die redakteur van Die Burger beland.
Die naam Nettie Pikeur kom 'n besonderse pad. Sy het dit as skuilnaam gekies omdat sy destyds vaste werk as verslaggewer gehad het en nie kon moonlight nie. Toe kies sy die naam van die befaamde ai Nettie wat in die veertigerjare op Montagu in haar Oupa Bram Pretorius se huis gewerk en 'n kok van formaat was. Nettie het die van se spelling verander na Pikeur (die tribe of clan staan bekend as Pekeurs en hulle tier welig op Montagu).
Toe dié skrywer in 1993 van die Kaap na Montagu in die Klein-Karoo verhuis, was sy verstom om te hoor ou ai Nettie leef nog. Een van haar niggies het kom kuier en Pikeur was verleë en vol verskonings vir die voorbarigheid.
Toemaar, was die antwoord, sy sal nie omgee nie en ook nie eintlik onthou nie, sy is al baie oud.
Nou dra sy met trots die naam Nettie Pikeur as haar alter ego, nommerpas tussen haar mense op Montagu. Oupa Bram se foto pryk tot vandag in die landdroskantoor in die dorp, want hy was vir ses jaar magistraat daar.
Opgedateer/Updated: 2008-10-06
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za
