Neels van der Schyf

Neels van der Schyf is professor en stigtersvoorsitter van die Departement Farmaseutiese Wetenskappe, adjunkdekaan vir Navorsing en Nagraadse Studies in die Kollege vir Farmasie, en professor in neurobiologie in die Kollege vir Geneeskunde by Northeast Ohio Medical University (NEOMED). Hy is ook direkteur van die PhD-program in geïntegreerde farmaseutiese geneeskunde wat hy by NEOMED tot stand gebring het, en professor in nagraadse studies in farmakologie en neurowetenskappe by Kent State University. Voordat hy na die VSA verhuis het, was hy professor en hoof van Farmaseutiese Chemie by die destydse PU vir CHO (tans Noordwes-Universiteit). Verdere inligting oor sy professionele aktiwiteite kan op sy webblad, http://www.neoucom.edu/audience/gradschool/pharmacy/pharm_sciences/chair, gevind word.

Van der Schyf se navorsingsbelangstelling en grootste bydraes lê op die gebied van geneesmiddelontwikkeling en nuwe behandelingstrategieë vir neurodegeneratiewe siektetoestande, insluitend Alzheimer se siekte, Parkinson se siekte, Huntington se siekte, motorneuronsiekte (ALS), gloukoomverwante neurodegenerasie, en neurodegenerasie na beroerte en traumatiese breinbesering.

Hy het meer as 110 vakwetenskaplike navorsing- en oorsigsartikels gepubliseer, en meer as 200 voordragte by nasionale en internasionale kongresse gelewer – baie as uitgenooide hoofspreker. Sewe boekhoofstukke, verskeie nywerheidsverlae, en etlike redakteursbydraes tot vaktydskrifte is deur hom geskryf. Hy word op 14 internasionale patente as die mede-ontdekker/-outeur gelys. Van der Schyf het as keurder opgetree vir meer as 40 internasionale vaktydskrifte, is die hoofredakteur van Journal of Biophysical Chemistry, is of was ′n lid van die redaksierade van vyf ander internasionale navorsingsjoernale, en dien in die Internasionale Adviesraad van die SA Tydskrif vir Chemie / SA Journal of Chemistry.

Hy het verskeie besoekende leerstoele beklee: in Australië (School of Medicine, University of Queensland), België (Facultés Universitaires Notre-Dame de la Paix, Namur), en die VSA (VA-MD Regional College of Veterinary Medicine, Virginia Tech), en is tans buitengewone professor emeritus by Noordwes-Universiteit. Hy tree ook op as konsultant vir maatskappye in Suid-Afrika, Indonesië en die VSA.

Benewens sy direkte betrokkenheid oor die afgelope 25 jaar by die opleiding van MD-, PharmD- en B-studente in Suid-Afrika en die VSA was dr. Van der Schyf gemoeid as studieleier of studiekomiteelid by meer as 50 MSc- en PhD-studente in hierdie twee lande en elders. Hy dien as ad hoc of komitee-beoordelaar vir die NIH, die Alzheimer’s Disease Foundation, die MNR/MRC, die NRF, en nog vele ander internasionale navorsingstigtings.

Hy is ′n lid van die Phi Beta Delta Honor Society en Sigma Xi, en het ′n tiental eerbewyse vir sy navorsing en onderrig ontvang. Hy is bekroon met die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se FARMOVS-prys vir Farmakologie en Geneesmiddelontwikkeling, en is ook die ontvanger van NEOMED se 2010 Olson/Blair-toekenning vir Administratiewe Uitnemendheid.

 

Opgedateer/Updated: 2011-07-19

Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za 
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za

Top