
Marianne Strydom
Na haar BA-graad in tale, verwerf Marianne ’n Biblioteekdiploma, hoofsaaklik omdat sy en haar man se koppe Nederland toe staan, waar sy ’n pos by die universiteitsbiblioteek in Utrecht kan kry.
In die Bibliografiese Afdeling waar sy beland, leer sy hoe om inligting vir navorsers van elke vak onder die son uit te snuffel. Sy wys ook aan haar skeptiese kollegas dat ons Suid-Afrikaners nie almal rassiste is nie.
Terug in Suid-Afrika word Marianne huisvrou en ma. Byna 20 jaar later begin sy haar eie paadjie stap en besef dat sy nou sal moet werk om te oorleef. Sy kry die pos as bibliotekaresse by Boishaai in die Paarl. Toe die geld vir haar salaris vir rugby-afrigters benodig word, moet sy weer plan maak.
Een oggend luister sy, steeds werkloos, na ’n radiogesprek oor vertaalwerk en hoe jy jouself kan bekwaam. (Dit was jare voordat dit ’n universiteitsvak geword het). Marianne bel die nommer van die persoon met wie hulle praat. Wilna Liebenberg (destyds voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vetalersinstituut, SAVI) nooi haar dadelik om te kom kuier, en op haar aanbeveling doen sy drie akkrediteringseksamens (Afrikaans, Engels en Nederlands) en slaag twee van die drie. Dit neem lank voordat sy ervare en bekend genoeg is om op eie voete te kan staan. Intussen help haar ma om die pot aan die kook te hou. Vir die volgende 20 jaar daarna werk sy as vertaler, proefleser, redigeerder, oftewel taalpraktisyn. Om met tale te werk, elke woord sorgvuldig te kies, maar ook die teks wat sy lees in diepte te verstaan, leer haar meer as wat sy ooit verwag het.
Marianne is die trotse ma van twee dogters (skrywer Anna Emm en Helena, skepper van HELENAwondering pottebakkerswerk) en vyf kleinkinders.
Haar ander liefdes? Lees, musiek en die natuur.
