Marguerite Moon

Marguerite Moon is in Kimberley gebore en het op Welkom skoolgegaan. Na skool kon sy nie gou genoeg Kaap toe hol nie. Nie omdat Welkom so sleg is nie, maar omdat die Kaap so mooi is. Sy moes kies tussen drama en kuns studeer, maar toe sy hoor sy moet sing in die drama-oudisie, het sy op die laaste nippertjie besluit om eerder kuns te studeer.

Eintlik wou sy en ‘n vriendin net met ‘n paar honderd rand en geen plan op ‘n trein spring Kaapstad toe en self sien kom klaar ... Gelukkig het hulle ouers ferm in hulle doofheid gestaan wat die mal plan betref. Nadat sy as ‘n grafiese kunstenaar gekwalifiseer het, het die Suidooster haar in ‘n klomp uiteenlopende rigtings gewaai. Party was ietwat onbevredigende rigtings soos winkel-assistent en kelnerin, en in die verre Londen het sy gewerk as ‘n administrasie-assistent en telebemarker. Ander rigtings, onder andere kunsjuffrou, terapeutiese refleksologis en tatoeëerkunstenaar was heelwat meer bevredigend toe sy geleer het hoe om beter te vlieg en om vir haarself te luister.

Na sowat agt jaar in Kaapstad het die roep van die Knysnabos te sterk geword en sy is sak en pak saam met Zinzi die hond soontoe. Terwyl sy haar suksesvolle tatoeëerstudio in Knysna beman het, het sy uiteindelik die tyd en selfvertroue bymekaargeskraap om haarself te begin uitleef in die rigtings wat haar altyd bekoorlik nader gelok het, naamlik skilder en skryf. Sy het vir vier jaar saam met haar heerlike sjef-man, Ettiene, gelukkig in Knysna gebly toe hulle lewens na ‘n nege maande wonderwerk betower is deur Noa Rose, hulle fyn feetjiekind. Die Knysna-hoofstuk is tevrede afgesluit en hulle bly vanaf Maart 2007 weer terug in Kaapstad.

Marguerite word deesdae baie besig gehou deur Noa Rose en die arme Zinzi wat nog sukkel om Noa se geboorte te verwerk. Wanneer Noa Rose slaap of op haar eie speel, bestee Marguerite tyd aan Bella-Blom, feetjies en Feetjieland en haar skilderdoeke. Sy lees ook soveel sy kan wanneer sy kan en kan nou al drie disse maak wat sy elke week herhaal. Die kombuis is nie die plek waar hierdie vegetariër haar skeppingsdrang uitleef nie.

Opgedateer/Updated: 2008-04-09
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za
Top