
Koot Reinecke
AJ (Koot) Reinecke is tans emeritusprofessor en navorsingsgenoot in die Departement Plant- en Dierkunde in die Fakulteit Natuurwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, waar hy sedert 1992 werksaam is en verskeie jare as departementshoof gedien het. Hy het sy doktorsgraad aan die destydse Potchefstroomse Universiteit (tans Noordwes-Universiteit) behaal, waar hy van 1986 tot 1991 professor en hoof van die Departement Dierkunde was.
Hy het al as president van die Dierkundige Vereniging van Suidelike Afrika, die Gesamentlike Raad van Natuurwetenskaplike Verenigings en die Internasionale Gronddierkundige Vereniging gedien. Hy dien op die redaksieraad van verskeie internasionale vaktydskrifte en is tans lid van die Onderwysadvieskomitee van die Suid-Afrikaanse Raad van Natuurwetenskaplike Professies.
Hy het uitgebreide studietydperke in die VSA, Duitsland en Nederland deurgebring. Hy is outeur en mede-outeur van sowat 300 navorsingspublikasies wat oor omgewingstoksikologie en grondbiologie handel. Hy is in 2007 deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns met die Havengaprys bekroon vir sy bydrae tot die biologiese wetenskappe en was in 2010 mede-ontvanger van die Douw Greeff-prys. Hy het al as studieleier van ’n veertigtal M‑ en D-studente opgetree en is tans nog by studieleiding aan nagraadse studente betrokke. Sy navorsing word tans deur die Nasionale Navorsingstigting en SASOL gefinansier.
Opgedateer/Updated: 2009-11-05
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za
