
Kobus Eloff
Jacobus Nicolaas (Kobus) Eloff het kwalifikasies in Chemie (MSc), Plantkunde (HonsBSc) en Plantbiochemie (DSc) aan die Noordwes-Universiteit behaal. Hy was ʼn navorsingsbeampte by die Departement Landboutegniese Dienste (1960-1964) en dosent en professor in Plantkunde aan die Universiteit van Pretoria, die Vrystaat en Kaapstad en die Noordwes-Universiteit (1964-1992). Hy was Uitvoerende Direkteur van Nasionale Botaniese Tuine met hoofkantoor te Kirstenbosch (1983-1989) en daarna Direkteur van Navorsing by die Nasionale Botaniese Instituut (1990-1993). Hy was ’n buitengewone professor by die Universiteit van Stellenbosch, Pretoria en Johannesburg (1988-1995), die leiernavorsingslaboratorium vir medisinale plante, die Departement Farmakologie van die Universiteit van Pretoria (1995-2000) en daarna leier van die interdissiplinêre Fitomedisyne-program by die Fakulteit Veeartsenykunde van die Universiteit van Pretoria (www.up.ac.za/phyto).
Hy was wetenskaplike Redakteur van die South African Journal of Botany sowel as sy voorganger, die Journal of South African Botany (1983-1998). Hy was Redakteur van ses volumes van Annals of Kirstenbosch Botanic Gardens, asook Green gold. Success stories using southern African plant species en African herbal pharmacopoeia. Hy is tans Uitvoerende Redakteur van die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie en Hoofredakteur van die International Journal of Phytomedicine, asook lid van die redaksiekomittee van die South African Journal of Botany.
Hy het 16 populêre wetenskaplike lesings in die buiteland gelewer en meer as 130 in Suid-Afrika, en het ongeveer 18 maande lank weekliks inligting oor natuurbewaring oor die radio verskaf. Hy het meer as 150 internasionale wetenskaplike voordragte in die buiteland gelewer en meer as 130 in Suid-Afrika, waarvan meer as 60 abstrakte in die internasionale literatuur gepubliseer is. Hy het meer as 160 ewekniegeëvalueerde wetenskaplike publikasies gelewer, waarvan sommige meer as 200 keer gesiteer is. Hy het ook 22 ander wetenskaplike publikasies, twee tegniese verslae, drie boekresensies en vyf patente gelewer.
Hy is uitgenooi om wetenskaplike publikasies in 52 verskillende leidende wetenskaplike joernale en befondsingsaansoeke vir verskeie organisasies te evalueer. Hy het ook meer as 100 MSc- en PhD-tesisse aan Suid-Afrikaanse en buitelandse universiteite geëvalueer. As studieleier of medestudieleier het hy 22 PhD‑ en 40 MSc‑studente gelewer en gee hy tans nog leiding aan 7 MSc- en 18 PhD-studente.
Hy het verskeie beurse vir uitgebreide navorsingsbesoeke in Israel, Engeland en die VSA ontvang. Hy was erelid van die International Protea Association (1988-1993) en stigterslid en later erelid van die Kirstenboschtak van Rotary International. In 1993 het hy die Senior Medalje vir Plantkunde van die Suid-Afrikaanse Genootskap vir Plantkundiges ontvang, sowel as erelidmaatskap. Volume 65 van die South African Journal of Botany (1999) is aan hom toegewy. Hy het die Havengaprys vir uitstaande navorsing in biologiese wetenskappe (2003) van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang, asook die Goue Akademiemedalje vir Natuurwetenskaplike en Tegniese Prestasie (2009). Hy het ook ’n bronsmedalje van die International Society for Horticultural Science ontvang (2009).
Hy is lid van die dagbestuur van die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (sedert 2005), lid van die Uitvoerende Komitee van die International Council for Medicinal and Aromatic Plants (sedert 2007) en lid van die Raad van die International Society for Ethnopharmacology. Hy was die eerste voorsitter van die Raad van Direkteure van die African Association for Medicinal Plant Standards, wat in 2005 in Mauritius geregistreer is. Die Nasionale Navorsingstigting het hom in die B3-kategorie geëvalueer as ’n “internationally acclaimed researcher”.
Hy is baie gelukkig getroud met Christna (gebore Smalberger) en is gaande oor sy twee dogters, twee skoonseuns en vyf kleinkinders, wat ongelukkig almal in die buiteland is.
Opgedateer/Updated: 2009-11-05
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za
