
Karin Combrinck
Karin Combrinck matrikuleer in 1976 aan die Hoërskool Wilgerivier, Frankfort, Vrystaat en verwerf die grade BDiac (Sielkunde, Maatskaplike Werk, Teologiese Studies) in 1979 en Honn BDiac (Kerklike Jeugwerk) in 1981 aan Hugenote Kollege in samewerking met UNISA. Vir die volgende 14 jaar bied sy veral kursusse/kampe/seminare aan vir die jeug, vroue, gemeenskapsleiers, plaasarbeiders, en so meer in die Wes-Kaap, Vrystaat, Namibië en destydse Wes-Transvaal. Sy werk oa vir die Departement Onderwys en Kultuur, die NG Kerk en die SANW, soms voltyds en soms deeltyds of vryskut. As student was sy voorsitter van die Kultuur-, Drama- en Debatsvereniging en redaktrise van die studentekoerant, en as volwassene was sy ingeskakel by 'n verskeidenheid organisasies en verenigings. As gevolg van toenemende gehoorverlies onttrek sy mettertyd aan werk en betrokkenheid waar haar gehoor 'n rol moet speel en begin teen die einde van 2002 om met die oog op publikasie te skryf. Sy het 'n aantal verhale in tydskrifte gepubliseer, sowel as 'n liefdesroman in Februarie vanjaar. Sy is vir 24 jaar lank gelukkig getroud met Boet en hulle het 'n dogter, Adéle-Mari, derdejaarstudent in Grafiese Ontwerp. Sy is 'n eenvoudige mens, hartstogtelik lief vir lees, skryf en die natuur, en geniet dit om 'n bietjie in die tuin te werk. Sy is geïnteresseerd in mense en het baie deernis met diegene wat siek is of swaarkry.
Opgedateer/Updated: 2007-05-03
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za
