Juhlène Wagner-Möller


Aka Lenka Boekenhout

Juhlène/Lenka is gebore op 8 April 1969 te Nylstroom in die Waterberg. Sy word aanvanklik groot op ’n plaas naby Alma. Later verhuis die gesin na Warmbad/Bela-Bela waar sy matrikuleer. Noodwendig vorm hierdie jare se geografiese en emosionele ruie wildernis haar en benut en buit sy veral die sensoriese en sensuele invloede uit in haar skeppende werk.

Sy publiseer as kind opstelle en gedigte in die plaaslike koerant en in Poort. Op universiteit is sy betrokke by ’n skryf-en toneelgroep waar sy haar eertydse eggenoot ontmoet. Hulle verhuis na Somerset-Wes ná 'n werksaanbod, waar hulle ook deeltyds steeds toneel en musiek bedryf. Hulle het saam twee dogters voordat hul kies om die verhouding te beëindig.

Lenka werk sedert 1995 in die filmbedryf in verskeie departemente met die oog daarop om veral die tegniese vaardighede van draaiboekskryf en regie te bemeester. ’n Paar klein eie projekkies sien sporadies die lig, maar weens die nomadiese, tydrowende en ongestruktureerde aard van die bedryf besluit sy in 2005 om eers party planne van die baan te skuif en nader aan die huis en kinders te werk. Tussendeur skaaf sy aan bestaande skryfwerk of vergader invalle vir nuwe kreatiewe projekte. Van haar lirieke sien later vanjaar die lig op n nuwe musiekalbum van Petronel Baard.

Lenka het ’n wye belangstellingsveld en wanneer sy nie vir haar dagloon boeke by ’n winkelgroep verkoop nie, is sy ’n ondeunde dog deernisvolle vriendin, ’n onkonvensionele dog toegewyde moeder, ’n vasberade – nee, verbete – boomplanter, ’n nuuskierige en geïnspireerde voetslaner, ’n innoverende minnares vir haar geliefde, en ’n aartsoptimis.



 

Opgedateer/Updated: 2008-05-20
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za 
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za

 

Top