
Johann Lutjeharms
Johann Lutjeharms is emeritusprofessor in fisiese oseanografie aan die Universiteit van Kaapstad. Sy hoofbelangstelling is die grootskaalse sirkulasiepatrone in die oseaanbekkens aangrensend aan suider-Afrika. Dit sluit in die Suidwes-Indiese Oseaan, die Suidoos-Atlantiese Oseaan en die Suidelike Oseaan tussen die kontinente van Afrika en Antarktika. Oor hierdie onderwerpe het hy en sy navorsingsgroep al meer as 450 artikels die lig laat sien en etlike boeke saamgestel, insluitende die standaardwerk oor die Agulhasstroom. Sy werk is bekroon met onder andere die Havengaprys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die John FW Herschel-medalje van die Royal Society of South Africa en die Fridtjof Nansen-medalje van die Europese Geowetenskappe-unie. In 2010 het hy die Orde van Mapungubwe van die Suid-Afrikaanse President ontvang.
