Johan het vyftien jaar diens in die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Ten tyde van sy bedanking einde Oktober 1994 het hy die rang van kaptein beklee. Johan was tydens die laaste vier jaar van sy aktiewe diens verbonde aan die Gevorderde Opleidingsakademie in die Paarl, Wes-Kaap. Die opleiding in die akademie was gefokus op die opleiding van polisieoffisiere. Johan was betrokke by die ontwikkeling van studiemateriaal en het ook die volgende vakke aangebied: Beplanning, Delegering, Besluitneming, Motivering en Strategiese bestuur. Hy het in November 1994 ’n voltydse akademiese pos by die destydse Technikon Suidelike Afrika (TSA) in die programgroep Polisiepraktyk aanvaar. Die programgroep het die Diploma in Polisiepraktyk aangebied, wat hoofsaaklik deur ingeskrewe polisielede as deeltydse studente bestudeer is. Johan was as akademikus betrokke by bestuursmodules. Hy het ook later 12 jaar lank as die akademiese operasionele bestuurder in dieselfde departement gewerk. In 2005, met die samesmelting van TSA met die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), is ’n graad ontwikkel en die diploma het met die BA Polisiëringswetenskap saamgesmelt. Johan is sedert 2005 ’n senior lektor in die Departement Polisiepraktyk, Skool vir Regspleging, Fakulteit Regsgeleerheid aan Unisa. Johan se belangstelling fokus hoofsaaklik op die volgende aspekte: openbare bestuur, misdaadvoorkoming, die bestuur van verandering, motivering, strategiese bestuur, dienslewering en misdaadvoorkoming. Johan het ’n meestersgraad in Polisiëring (Unisa), ’n BA-honneursgraad in Publieke Bestuur (Universiteit Stellenbosch) en ’n BA-graad in Politieke Wetenskap (Universiteit van Pretoria). Hy is lid van die Kriminologiese Vereniging van Afrika (Crimsa) en International People Management (IPM).