
Johan Meyer
Johan Meyer is ’n senior professor in Wiskunde aan die Universiteit van die Vrystaat, ’n instansie waarby hy al sedert Julie 1987 betrokke is.
Hy is ’n gebore en getoë Bolander, matrikuleer te Hoërskool Charlie Hofmeyr, Ceres, en word ná twee jaar se diensplig ’n Matie. Hier behaal hy ’n MSc en PhD in Algebra onder leiding van Andries van der Walt. Tydens sy studiejare op Stellenbosch ontmoet hy sy vrou, Marié, ook ’n Matie. Hulle trou in Stellenbosch en kort ná die verwerwing van sy PhD verhuis hulle na
Sy twee kinders, albei Vrystaters, is deesdae ook studente. Die oudste, Antonie, studeer Biotegnologie aan die UV en Mariechen studeer musiek op Stellenbosch.
Johan se navorsingsbelangstelling lê in die abstrakte algebra, en meer spesifiek die ringteorie, moduulteorie en byna-ringteorie. Hy is die outeur/mede-outeur van ongeveer 30 artikels in hierdie veld. Sy belangstelling is egter nie beperk tot algebra nie, en hy lees graag oor enige onderwerp in die wiskunde. Vandaar ook sy belangstelling in en betrokkenheid by Wiskunde-olimpiades, ’n aktiwiteit wat die geleentheid skep om van die interessantste wiskundige probleme raak te loop.
Hy is vir die afgelope klompie jare mede-opsteller van die derderondevraestel van die Suid-Afrikaanse Wiskunde-olimpiade en het al verskeie kere op die probleme-komitee van die Pan African Mathematics Olympiad gedien. Hy is ook nou betrokke by opleiding in hierdie verband, van provinsiale vlak tot in die noorde van Afrika.
Johan het ’n intense belangstelling in musiek, hoofsaaklik uit die Klassieke en Romantiese tydperk, en spits hom veral op die musiek van Liszt toe.
Opgedateer/Updated: 2009-11-05
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za
