JJ Henning

J.J. (Johan) Henning is ’n oudstudent van die Universiteit van die Vrystaat (UV) waar hy die grade BIur en LLB verwerf het deur deeltydse studie terwyl hy sy leerklerkskap voltooi het en daarna in 1975 as prokureur toegelaat is. Nadat hy die doktorale eksamen in vennootskaps-, maatskappye- en kontraktereg aan Unisa geslaag het en navorsing aan die Universiteite van Londen en Cambridge en die Albert-Ludwigs-Universität in Freiburg gedoen het, het hy sy LLD aan die UV voltooi.

Hy is in 1980 tot hoogleraar in handelsreg aan Unisa bevorder en is in 1984 aangestel as direkteur van die Sentrum vir Ondernemingsreg aan die UV. In 1987 word hy hoof van die Departement Handelsreg aan die UV. Hy is in 1994 as een van die twee eerste uitstaande professore aangestel en in 1998 as dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die UV. In 2014 tree hy af as dekaan en word die eerste akademikus aan die UV wat as uitstaande professor emeriteer. Hy word daarna aangestel as senior navorsingsprofessor aan die UV, en beklee steeds die posisie.

Hy was ’n deeltydse direkteur van die Centre for Partnership and Company Law van die Institute of Advanced Legal Studies aan die Universiteit van Londen vanaf 2000 tot 2010. Hy is in 2012 aangestel as die eerste permanente besoekende professor in vergelykende maatskappye- en vennootskapsreg aan die BPP University Postgraduate School of Law in Londen en in 2014 as buitengewone professor in handelsreg aan Unisa. Hy is ’n eregenoot van die Society of Advanced Legal Studies (VK) en ’n erelid van die Order of the Coif (VSA) asook ’n lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en ’n genoot van die Academy of Science of Southern Africa.

 

 

Aantekening: Opmerkings oor die eienskappe van die maatskappy met persoonlike aanspreeklikheid

JJ Henning LitNet Akademies (Regte) 2016-11-07

"Die blywende indruk in die identifisering van die eienskappe van die maatskappy met persoonlike aanspreeklikheid is dat, nes met die privaatmaatskappy en die beslote maatskappy, die betrokke bepalings wyd oor die Maatskappywet en regulasies versprei is en as’t ware uit die omvattende en ingewikkelde wetgewing 'gekam' moet word."

’n Oorsig van die aard, ontwikkeling en invloed van statutêre moratoria in Suid-Afrika gedurende die eerste helfte van die 20ste eeu

JJ Henning 2012-09-07 "In hierdie bydrae word die aandag toegespits op Suid-Afrikaanse moratorium-wetgewing en veral dié ten behoewe van soldate en ander lede van die verdedigingsmag van die Unie op aktiewe diens gedurende die Eerste Wêreldoorlog en die Tweede Wêreldoorlog."
Top