Jan K Coetzee

Jan K Coetzee verwerf die grade MA, BD en DPhil aan die Universiteit van Pretoria. Hy word in Julie 1979 professor in sosiologie aan die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat en in 1987 aanvaar hy die aanstelling as professor en hoof van die Departement Sosiologie en Industriële Sosiologie aan Rhodes-universiteit. In 2010 word hy emeritus professor aan Rhodes-universiteit en in 2011 word hy aangestel as senior professor in sosiologie by die Universiteit van die Vrystaat.

Sy navorsingsbelangstellings sentreer in die 1980’s en 1990’s rondom die sosiologie van ontwikkelende samelewings en hy is die redakteur en mederedakteur van ’n aantal belangrike voorgeskrewe werke op hierdie gebied (onder meer Development is for people in 1986 en in uitgebreide formaat in 1989, Reconstruction, development and people in 1996 en Development: theory, policy, and practice in 2001). Sedert die middel van die 1990’s fokus hy hoofsaaklik op kwalitatiewe navorsing en die gebruik van lewensverhale en biografiese materiaal. Sy boeke Plain tales from Robben Island (2000) en Fallen walls: Voices from the cells that held Mandela and Havel (2002 en as Tsjeggiese vertaling in 2003 en heruitgegee in die VSA in 2004) geniet wye sukses en is in 2002 bekroon met die toe pas-ingestelde Vice-Chancellor’s Book Award aan Rhodes-universiteit. Latere publikasies sluit in Life on the margin (oor die lewensverhale van inwoners van informele nedersettings) en werk oor The fragmentary method in biographical research.

In 2012 loods hy ’n nuwe program in “The narrative study of lives” aan die Universiteit van die Vrystaat, waarby verskeie buitelandse nadoktorale genote betrek is. Hy is ’n lid van die Raad van die Europese Sosiologievereniging se navorsingsnetwerk in kwalitatiewe metodes. Hy dien ook in verskeie redaksionele rade en is ’n lid van die internasionale advieskomitee vir die Sage handbook of qualitative data analysis.

 

’n Nuwe bedeling, ’n ou bewussyn: Die verhale van ’n lyfeiene

Jan K Coetzee 2014-08-25 "Hierdie artikel plaas die soeklig op ’n enkele individu en sy lewensverhale. Die verhale word geplaas teen die agtergrond van die sosiale struktuur waarbinne hy sy leefwêreld beleef."
Top