
Ian Dubery
Ian Dubery matrikuleer in 1972 as dux-leerling aan die Volksrustse Hoërskool. In 1973 begin hy met sy studies met hoofvakke Biochemie en Chemie aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit, waar hy die BSc‑ en HonsBSc‑grade in 1975 en 1976 onderskeidelik behaal, albei met lof.
In 1977 tree hy in diens van die Raad op Atoomkrag, waar hy sy studies voortsit, in 1981 die MSc‑graad met lof behaal en na senior wetenskaplike bevorder word.
In 1982 word hy as dosent in Biochemie aan die RAU aangestel en in 1986 verwerf hy die PhD‑graad. Hy voltooi in 1988 ’n na-doktorale studiejaar by die Laboratorium vir Plantmolekulêre Biologie van die Salk Instituut vir Biologiese Studies in die VSA en word met sy terugkeer in 1989 tot medeprofessor bevorder. In sy navorsingsprogram fokus hy op plant-patogeen-interaksies en in 1994 doen hy navorsing op dié gebied aan die Max Planck Instituut vir Plantteling in Keulen, Duitsland. Hy word in Junie 1995 tot professor bevorder. In 2005 spandeer hy sy sabbatsverlof as besoekende professor aan die Sentrum vir Plantmolekulêre Biologie by die Universiteit van Tübingen in Duitsland.
In sy loopbaan tot dusver het prof. Dubery verskeie gesogte toekennings en pryse ontvang, onder andere die Boehringer-Mannheim-prys van die SA Biochemiese Vereniging vir die beste honneursstudent in Biochemie aan Suid-Afrikaanse universiteite, die Scientific Group-prys vir die beste magisterverhandeling en die prys vir jong biochemici wie se navorsing die mees buitengewone belofte inhou, reis- en sabbatsverloftoekennings van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) en die Internasionale Unie vir Biochemici (IUB), asook die prestige‑ Alexander von Humboldt-toekenning vir navorsing in Duitsland.
Prof. Dubery maak deurlopende en betekenisvolle bydraes tot die bevordering van wetenskap deur onderrig en navorsingsopleiding. Hy is die outeur van 80 publikasies in internasionale vakjoernale, asook die studieleier en promotor van 38 afgestudeerde magister‑ en doktorale studente in Biochemie. Sy meer onlangse navorsing oor bakteriële lipopolisakkariede as elisitore van plantimmuniteit trek veral internasionale aandag en erkenning deur die impak wat dit maak, en hy word as ’n leier op dié gebied beskou. Internasionale belangstelling in hierdie inisiatiewe het reeds gelei tot samewerking met wetenskaplikes aan die Universiteit van Tübingen, Duitsland, die Duitse Navorsingstigting vir Omgewingsgesondheid, München, en die Universiteit van Napels in Italië. Hy word erken as hoogaangeskrewe wetenskaplike op die gebied van plantimmuniteit en verdedigingsresponse teenoor patogene mikro-organismes en het ’n B-evalueringstatus by die NNS. Hy is tans hoof van die Departement Biochemie aan die Universiteit van Johannesburg.
Opgedateer/Updated: 2009-11-05
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za
