
Heinrich Raubenheimer
Heinrich Raubenheimer is in 1952 in Pretoria gebore. Hy ondergaan sy skoolopleiding in Roodepoort, waar hy in 1969 aan die Roodepoortse Hoërskool matrikuleer. In 1970 verrig hy militêre diensplig in die Suid-Afrikaanse Vloot.
Hy begin sy tersiêre opleiding in 1971 aan die Randse Afrikaanse Universiteit. Daar behaal hy die BSc-graad met lof in 1973 en die Honneursgraad in Wiskunde in 1974. Hy verhuis in 1975 na Potchefstroom en in 1976 behaal hy die MSc-graad in Wiskunde met lof aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys met sy verhandeling “Die Radon Nikodym-eienskap in Banach-ruimtes” onder die promotorskap van prof. Koos Grobler. In 1979 word die PhD-graad aan hom toegeken op grond van sy proefskrif “Die Fredholm-teorie in Banach-ruimtes”, weer onder die promotorskap van prof. Koos Grobler. In 1983 verhuis hy en sy gesin na Bloemfontein, waar hy vir sewentien jaar as lektor in die Wiskundedepartement van die Universiteit van die Vrystaat verbonde is. In 2000 verhuis hy na Johannesburg en is tans professor in Wiskunde aan die Universiteit van Johannesburg.
Tydens sy loopbaan besoek hy verskeie universiteite, waar hy telkens ses maande lank navorsing doen: in 1986 die Universiteit van Tübingen Duitsland, in 1994 die Universiteit van Cambridge, Engeland, en in 1997 die Queens Universiteit van Belfast, Noord-Ierland. Sy navorsing behels tans spektraalteorie in Banach-algebras. Hy stel sy navorsing plaaslik en oorsee bekend deur op ’n gereelde basis aan kongresse deel te neem. Hy en sy medewerkers is die outeurs van vele artikels wat in geakkrediteerde joernale verskyn het. Hy tree op as promotor vir ’n groot aantal MSc‑ en PhD-studente en ook as keurder van artikels in vaktydskrifte.
Opgedateer/Updated: 2010-10-21
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za
