Gideon Wolfaardt

Gideon Wolfaardt is ’n professor en omgewingsmikrobioloog by Ryerson Universiteit in Toronto, Kanada. Hy is ook ’n adjunkprofessor by die Departement van Toegepaste Chemie en Chemiese Ingenieurswese by die Universiteit van Toronto, ’n besoekende professor by die Thayer Skool vir Ingenieurswese by Dartmouth College, VSA, en het ’n Kanada-leerstoel wat op biofilms and tussenfases fokus.

Sy navorsing fokus hoofsaaklik op mikrobiese ekologie en die toepassing van hierdie kundigheid om biofilms in biotegnologiese, industriële en kliniese omgewings te beheer. Huidige projekte sluit in fundamentele studies oor biofilm-vorm en ‑funksie, sowel as toegepaste navorsing in ’n verskeidenheid areas, insluitende infeksiebeheer, mikrobiese omskakeling van plantbiomassa na energie, die bestuur van mynuitvloei, en die beheer van patogeniese mikrobes in die omgewing.

Hy het sy PhD aan die Universiteit van Saskatchewan behaal, MSc en HonsBSc aan die Universiteit van Pretoria en BSc en HOD aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat.

Hy is die skrywer of medeskrywer van meer as 80 eweknie-geëvalueerde artikels en boekhoofstukke en het op uitnodiging talle praatjies in Kanada, die VSA, Duitsland, Engeland en Suid-Afrika gelewer. Sy samewerkers sluit kollegas van Suid-Afrika, Kanada, die VSA, Switserland en Duitsland in. Hy is ook subredakteur van die Canadian Journal of Microbiology, was ’n redaksielid van Microbial Ecology en is ’n keurder vir meer as vyftien wetenskaplike tydskrifte.

Sy vakgebied-verwante aktiwiteite oor die afgelope sewe jaar sluit die volgende in: Uitvoerende Bestuur: Canadian Society for Microbiologists; gewese raadgewende raadslid: International Society for Microbial Ecology; gewese raadslid: The International Biodeterioration Society; gewese raadslid (spesiale afdeling vir landelike watervoorsiening): Waterinstituut van Suid-Afrika; gewese raadslid: Suid-Afrikaanse Vereniging vir Mikrobiologie; ad hoc-keurder vir NSERC, CFI en OCE (Kanada) en NHI en NSF (VSA); keurder vir die Europese Wetenskapstigting (sedert 2005); en gewese lid van die Verbouings‑ en Biotegnologie-komitee: Winetech.

 

Opgedateer/Updated: 2009-11-05

Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za 
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za

Top