
Frikkie Botha
Frikkie Botha se loopbaan in plantfisiologie en gewasverbetering strek oor meer as 30 jaar. Sy navorsingsbelangstelling en uitsette dek aspekte soos die regulering van saadontkieming en koolhidraatmetabolisme. Tydens die afgelope dekade het hy ʼn groot belangstelling in doeltreffende navorsingsbestuur ontwikkel. In die tydperk 1976 tot 1991 werk hy by die Universiteite van Potchefstroom, Pretoria en Bloemfontein. Hy begin sy loopbaan as laboratoriumassistent en was daarna navorsingsassistent, lektor en senior lektor voor sy aanstelling as professor by die Universiteit van die Vrystaat in 1989. In hierdie tydperk werk hy ook by twee geleenthede (18 maande) as navorsingsgenoot by die Queens Universiteit in Kingston, Kanada, en drie maande by Rothamsted in Engeland.
In 1992 word hy aangestel by die Suid-Afrikaanse Suikerbedryf met die opdrag om ʼn biotegnologie-program op die been te bring. Terselfdertyd beklee hy die pos van professor in plantbiotegnologie aan die Universiteit van KwaZulu-Natal. In 1998 word hy as professor in Botanie en Direkteur van die Instituut vir Plantbiotegnologie aan die Universiteit Stellenbosch aangestel. In 2003 word hy die Direkteur van die Suid-Afrikaanse Suikerriet Navorsingsinstituut en buitengewone professor aan die Universiteit Stellenbosch. In 2008 word hy die Uitvoerende Direkteur van die Suikernavorsings‑ en Ontwikkelingskorporasie in Australië en is tans die QCROPS-programbestuurder by BSES Limited in Australië, sowel as buitengewone professor by die Universiteit Stellenbosch.
Hy het reeds op twaalf Suid-Afrikaanse en internasionale komitees gedien, was voorsitter van nasionale en internasionale komitees en die President van die Suid-Afrikaanse Genootskap vir Plantkundiges. Hy tree op as evalueerder vir dertien internasionale vaktydskrifte en was ook deel van die taakspan wat die biotegnologie-strategie van Suid-Afrika ontwikkel het.
Frikkie Botha is die outeur van 140 navorsingspublikasies en boekhoofstukke, het vier patente geregistreer en lewer gereeld bydraes by nasionale en internasionale kongresse. By 17 van hierdie geleenthede het hy as gasspreker opgetree. In 1985 ontvang hy die brons medalje en in 2005 die silwermedalje van die Suid-Afrikaanse Genootskap vir Plantkundiges. In 1985 ontvang hy die Presidentstoekenning van die Nasionale Navorsingstigting en in 2002 die Havengaprys vir Biologiese Wetenskappe van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. In 2005 is hy een van die finaliste van die National Science Foundation vir sy bydraes tot die wetenskap in Suid-Afrika. In die tydperk 2003–2008 was hy deel van die paneel kundiges van die RSG-program Hoe verklaar jy dit?.
Onder sy leiding het 18 PhD‑ en 46 MSc‑studente hulle grade voltooi.
Opgedateer/Updated: 2010-10-04
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za
