Francois Venter ontvang die grade BJuret Com (1968), LLB (1970) en LLD (1978) van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (nou NWU). Hy was regsdosent aan die Universiteit van Fort Hare (1971–1973) en vanaf 1974 aan die Fakulteit Regte in Potchefstroom, sedert 1980 as professor. Vanaf 1989 tot 1990 is hy voorsitter van die Vereniging van Universiteitsdosente in die Regte. Hy was ook dekaan van die Fakulteit Regte in Potchefstroom van 2001 tot 2012 en president van SALDA (South African Law Deans' Association) van 2009 tot 2010. Sedert sy uittrede is hy benoem as navorsingsgenootvan die Fakulteit Regte in Potchefstroom.
Hy is tussen 1979 en 2013 meermale ontvanger van toekennings van die Alexander von Humboldt-Stiftung vir navorsingsbesoeke aan Duitsland en ander Europese lande. Hy is ook alumnus van die Max Planck-Institut für ausländisches öffentliches Recht und Völkerrecht in Heidelberg, Duitsland. Hy was besoekende Mercator-professor, befonds deur die Deutsche Forschungsgemeinschaft, aan die Justus Liebig Universiteit, Gießen, Duitsland (Desember 2006 tot Februarie 2007). Hy is in 1990 die eerste Suid-Afrikaanse lid van die International Association of Constitutional Law (IACL).
Francois Venter was van Desember 1991 tot Mei 1992 adviseur by die onderhandelingsliggaam KODESA met die opdrag om die hoofonderhandelaars van die Suid-Afrikaanse regering oor grondwetlike aangeleenthede by te staan. Hy was ook van Mei tot Desember 1993 sameroeper van die Tegniese Komitee oor Grondwetlike Aangeleenthede van die Veelparty-onderhandelingsproses (VPOP) in Kempton Park. Die komitee was verantwoordelik daarvoor om in wisselwerking met die VPOP die grootste deel van die 1993-Grondwet te formuleer.
Hy stig in 1998
PER (
Potchefstroomse Elektroniese Regsblad), die eerste van sy soort in Suid-Afrika, en is redakteur daarvan tot 2012. In 2011 wor
d hy deur die Nasionale Navorsingstigting (NRF) formeel gegradeer as 'n navorser wat aansienlike internasionale erkenning van sy eweknieë vir die hoë gehalte en impak van sy onlangse navorsingsuitset geniet (B-gradering). Sy belangrikste onlangse publikasie is
Global Features of Constitutional Law (2010) by Wolf Legal Publishers, Nijmegen.