Fran Carstens
Liedjieskrywer / sanger / diepdenker / storieverteller en alom-lekker mens.
Ek het op skool al begin liedjies skryf, maar as ek nou terugdink, dan is ek amper bly ek het dit nie opgeneem nie. Ek is wel baie dankbaar vir die mense wat in my geglo het en my aangemoedig het om aan te hou skryf. Ek het al baie goed in my lewe aangepak en dan vinnig weer verveeld geraak daarmee, maar liedjieskryf is gelukkig nie een van daai dinge nie. Ek vermoed dit is omdat ek kans kry om my hart uit te praat deur musiek. Ek sukkel maar so uit die vuis uit, maar as ek 'n 'song' daaroor moet skryf, dan dink ek baie mooi oor wat ek wil sê en ek maak seker ek word reg verstaan.
By Crescendo Kreatief 2011 se liedjieslypskool, het ek uiteindelik uitgevind wie ek is as liedjieskrywer - wat is my genre, my sterkpunte en waaraan ek moet werk. Dit het my ongelooflik gemotiveer. Ek het so paar vertonings gehou en dit was goed ontvang. Ek is bly dat ek besluit het om weer in te skryf die jaar, want ek het alweer 'n magdom goed geleer by die slypskool. Iemand het vir my gesê: "Jy sal nooit soveel leer in drie jaar op 'n ander plek soos wat jy sal leer in een week onder die leiding van Lize Beekman nie." En hulle is reg... so, so reg.
Om as die wenner weg te stap van Crescendo Kreatief 2012, was die inspuiting wat ek nodig gehad het. Dis 'n ongelooflike groot eer en voorreg en ek hoop dat ek die ATKV sal trots maak met dit wat ek aanpak en opdis op die pad vorentoe.
Ek beplan 'n vol jaar volgende jaar (2013). My CD is goed oppad, ek het 2 musiek videos wat vrygestel gaan word en ek werk aan 'n hele klomp vertonings. My lekkerste tonekrul lekker, is 'n klein vertrekkie vol mense met opgetopte glase wat saam met my kuier om my woorde en my musiek en elke kort-kort 'n kop wat knip, daai glimlag wat vertel van weet of 'n traan wat onbeskaamd sy verskyning maak.
Vir solank ek leef, sal ek nooit ophou skryf, sing en stories vertel nie. Dis wat ek doen... dis wie ek is.
