Fasie
Ek is gebore in 1992, die derde en jongste seun van Past. Dries en Margie van As, in die UNITAS hospitaal in Centurion. Die eerste vier jaar van my lewe bly ons op Delmas in Mpumalanga, waarna my vader 'n beroep aanvaar na Vaalpark in die Noord-Vrystaat, so te sê op die oewer van die Vaalrivier, nie eers tien minute se ry van Sasolburg af nie. Op Vaalpark voltooi ek my skoolloopbaan. Of sal ek eerder sê my tuisskoolloopbaan. ek matrikuleer in 2009 op die jonge ouderdom van 17 waarna ek nie die vaagste benul het wat ek met my lewe wil doen nie. Ek vat toe maar 'n rusjaar om my kop skoon te kry en in daardie jaar besluit ek dat ek gaan voortbou op my aanleg vir rekeningkunde deur in te skryf in 2011 by die Noord-Wes Universiteit se Vaaldriehoek Kampus se BComm in Geoktrooieërde Rekenmeester kursus. Ek is tans in my 2de jaar en hoop om teen 2014 my Hons te kan voltooi. Dwarsdeur my lewe het ek 'n groot liefde vir lees gehad, baie maal in die skoolvakansies het ek die nagte halfpad omgelees. My lig was maklik tot 0300 die oggend nog aan. Baie maal het ek ook stories geskryf maar nooit rerig gepubliseer nie. Ek hoop dat ek 'n bydra sal kan maak tot die LitNet gemeenskap en ek glo dat ek my tyd hier by julle sal geniet.
