Evette Weyers

Kort bio Voor my geboorte het my ma reeds geweet dat ek ‘n meermin was en nie uit die binnesee sou kom voor ek nie die groot oseaan daar buite gehoor het nie. Ek was in elf skole dwars oor die land wat goed was vir my as enigste kind. Ek het nooit leer spel nie. BA graad gekry met Wiskunde, Engels en Sielkunde as hoof fakke. Kuns by Pretoria Technikon studeer en klei ontdek. Sedertdien beelde gemaak, veral geinspireer deur gedigte en woorde se transformasies.. Op die 50tigste herdenking van die atoombom ontploffing oor Hirosjima, was my beeld ‘Woman dreaming peace” op die vredesmonument in die internasionale vredestuin, “The Garden of Us” in Hirosjima geplaas. My pa het my van kleins af geleer om liggies op die aarde te trap . Ek het geweet my missie as kind was om die wilde plekke van die aarde op te pas. Ek leer steeds vir kinders en volwassenes oor die see en hoe om saam met bobbejane te leef. Ek was gevra om ‘n boek te skryf oor die stories agter my beelde en my lewe saam met Marius. Woorde is so verleidelik en nie onderhewig aan swaartekrag nie. Skryf is my wilde perde. Hulle kom nooit as ek roep nie. Raap my telkens onverwags op, op ‘n stywe gallop. Ek weet net ek wil hulle nooit mak maak nie. Ek is amper klaar met my Engelse vertaling van my boek “Wat die hart van vol is.” En my uitgewers, Hemel en See, sal die Engelse weergawe ook uitgee: Forgotten orchards of the imagination. Evette Weyers
Top