
Eugene Cloete
Prof. Cloete is die dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch. Hy is die voormalige departementshoof van Mikrobiologie en Plantpatologie aan die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe aan die Universiteit van Pretoria, en die voormalige voorsitter van die Skool vir Biologiese Wetenskappe aan die UP. Prof. Cloete is die stigtingsdirekteur van die UP Waterinstituut, en ʼn voormalige visepresident en raadslid van die Internasionale Watervereniging (IWA). In 2005 is hy vir drie jaar as die voorsitter van die IWA- Strategiese Raad aangestel. Hy het 122 wetenskapartikels in toonaangewende vaktydskrifte gepubliseer, en dien op die redaksies van verskeie vaktydskrifte. Hy is die houer van nege patente. Hy het reeds 78 MSc- en 25 PhD-studente gepromoveer. Verder was prof. Cloete die redakteur van vyf boeke. Hy het by tien geleenthede as hoofspreker by internasionale konferensies opgetree. Onder die toekennings wat hy ontvang het, is die Havengaprys (vir Biologie) van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy het ook in 2009 die Universiteit van Pretoria se Kanseliersmedalje vir Navorsing ontvang. Hy is ’n senior genoot van die Waterinstituut van Suid-Afrika, ’n genoot van die Internasionale Watervereniging en ’n genoot van die Amerikaanse Akademie vir Mikrobiologie.
Opgedateer/Updated: 2010-09-23
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za
