
Emile van Zyl
Emile van Zyl is sedert 1999 verbonde aan die Departement Mikrobiologie van die Universiteit Stellenbosch. Hy het sy PhD in 1989 aan die Princeton Universiteit in die VSA ontvang. Hy het die Rektor se Toekenning vir Voortreflike Onderrig (1997) en Voortreflike Navorsing (2001) aan die Universiteit Stellenbosch ontvang, sowel as ’n silwer medalje van die Suid-Afrikaanse Vereniging in Mikrobiologie (SASM). Hy is die skrywer van 88 publikasies in internasionale eweknie-geëvalueerde tydskrifte en het 18 patente geregistreer – 14 internasionaal en 4 in Suid-Afrika. Hy het bydraes by 86 internasionale en 102 nasionale konferensies gelewer. 18 PhD‑ en 32 MSc‑studente het hulle grade onder sy leiding behaal, en ’n verdere 6 PhD‑ en 6 MSc-studente werk tans onder sy leiding.
Prof. van Zyl is die afgelope 20 jaar wel bekend as leier in die mikrobiologie en biochemie van plantafbraak in Suid-Afrika, met beduidende internasionale erkenning in hierdie veld. Sy spesialiteitsgebied lê in die ontwikkeling van rekombinante giste vir biobrandstofproduksie vanaf totale plantbiomassa. Hy is in 2007 deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Energienavorsingsinstituut (SANERI) beloon met die prestige Senior Leerstoel in energienavorsing in biobrandstof en ander skoon alternatiewe brandstowwe, en lei tans ’n biobrandstofnavorsingspan aan die Universiteite van Stellenbosch en Kaapstad.
Prof. van Zyl se groep het in die laat 2000’s verskeie internasionale patente geregistreer en het beduidend tot die tegnologiepakket van Mascoma Corporation (http://www.mascoma.com) in New Hampshire, USA, bygedra met betrekking tot die ontwikkeling van kommersiële sellulolitiese giste vir bio-etanolproduksie. Mascoma Corporation is onder die top‑ tien biobrandstofmaatskappye in die wêreld wat in 2008 en 2009 deur Biofuels Digest gelys is.
Opgedateer/Updated: 2010-10-04
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za
