Elmarie

Elmarie van Schalkwyk is gebore op 12 Desember 1983 in Benoni, Suid Afrika. Sy het grootgeword in Jatniël: Die hoofkantoor van die Spade Reën Sending Internasionaal. Haar digkuns word geinspireer deur haar ervarings in die geloofsgemeenskap waar sy grootgeword het asook die ontleding en besoeke aan haar onderbewussyn en droomwêreld. Van jongs af was musiek ‘n passie en skryf sy graag lirieke. Met sangers wat haar inspireer soos Laurika Rauch, Coenie de Villiers en Die Heuwels Fantasties. Van Schalkwyk reis graag en stel belang in verskillende kulture en hul unieke musikale klanke. In Junie 2012 ontmoet sy Dr. Riana Scheepers gedurende ‘n skryfskool in Boussac, Frankryk. Later daardie jaar het sy ook ‘n opvolg kursus deur haar in Wellington bygewoon. Die ervare skrywer, Dr. Scheepers, speel ‘n belangrike rol van mentorskap in Van Schalkwyk se loopbaan tot dusver en sy beskou haar as ‘n groot inspirasie. Dr. Scheepers het haar ook aangespoor om van haar lirieke vir die Litnet “Sing It” 2013 kompetisie in te skryf. Van Schalkwyk toonset ook haar eie lirieke en deel graag haar gunstellinge. 1. VANNAG kerf vannag vir jou 'n stukkie van my siel; die letsel sal my herinner hoe die liefde kan verniel. hoe dit ook al sy so het ek geleer; al maak dit nie dood nie maak dit nogsteeds seer. 2. LUNA Sy het nie 'n vrou se naam nie Maar tog 'n vrou se vel Die kurwe van haar lippe pronk As 'n hart tussen takke swel Refrein: Luna la Luna Vleg sterre in haar hare Luna la Luna Luister na my silwer ballade Soms gemaak en soms ontvang Om te sing met min woorde Want woorde raak weg in die nag En al wat terugkeer is akkoorde Refrein: Luna la Luna Vleg sterre in haar hare Luna la Luna Luister na my silwer ballade Sy het nie ‘n vrou se stem nie Maar tog ‘n vrou se lyf Die ronding van haar borste swel Onder die woorde wat ek skryf 3. IN ‘N OOMBLIK Ek hoor nie meer die wiegelied Van die son wat skyn En reën wat sag oor blomme giet Ek hoor nie meer die stem wat fluister Soet woorde van liefkosing Gerusstellings oor foute van gister Ek voel nie die warm hand op my rug Wat my hartklop stil My omvou en my gemoed hoog lig Die sagte reuk van vrede het verdwyn Soet waters van rus het opgedroog En so ook die wyn Word mens dan so vinnig oud? Onbewus van verandering Binne klop my hart stadig, benoud
Top