Elmarie
Elmarie van Schalkwyk is gebore op 12 Desember 1983 in Benoni, Suid Afrika. Sy het grootgeword in Jatniël: Die hoofkantoor van die Spade Reën Sending Internasionaal. Haar digkuns word geinspireer deur haar ervarings in die geloofsgemeenskap waar sy grootgeword het asook die ontleding en besoeke aan haar onderbewussyn en droomwêreld.
Van jongs af was musiek ‘n passie en skryf sy graag lirieke. Met sangers wat haar inspireer soos Laurika Rauch, Coenie de Villiers en Die Heuwels Fantasties.
Van Schalkwyk reis graag en stel belang in verskillende kulture en hul unieke musikale klanke.
In Junie 2012 ontmoet sy Dr. Riana Scheepers gedurende ‘n skryfskool in Boussac, Frankryk. Later daardie jaar het sy ook ‘n opvolg kursus deur haar in Wellington bygewoon. Die ervare skrywer, Dr. Scheepers, speel ‘n belangrike rol van mentorskap in Van Schalkwyk se loopbaan tot dusver en sy beskou haar as ‘n groot inspirasie. Dr. Scheepers het haar ook aangespoor om van haar lirieke vir die Litnet “Sing It” 2013 kompetisie in te skryf.
Van Schalkwyk toonset ook haar eie lirieke en deel graag haar gunstellinge.
1.
VANNAG
kerf vannag vir jou
'n stukkie van my siel;
die letsel sal my herinner
hoe die liefde kan verniel.
hoe dit ook al sy
so het ek geleer;
al maak dit nie dood nie
maak dit nogsteeds seer.
2.
LUNA
Sy het nie 'n vrou se naam nie
Maar tog 'n vrou se vel
Die kurwe van haar lippe pronk
As 'n hart tussen takke swel
Refrein:
Luna la Luna
Vleg sterre in haar hare
Luna la Luna
Luister na my silwer ballade
Soms gemaak en soms ontvang
Om te sing met min woorde
Want woorde raak weg in die nag
En al wat terugkeer is akkoorde
Refrein:
Luna la Luna
Vleg sterre in haar hare
Luna la Luna
Luister na my silwer ballade
Sy het nie ‘n vrou se stem nie
Maar tog ‘n vrou se lyf
Die ronding van haar borste swel
Onder die woorde wat ek skryf
3.
IN ‘N OOMBLIK
Ek hoor nie meer die wiegelied
Van die son wat skyn
En reën wat sag oor blomme giet
Ek hoor nie meer die stem wat fluister
Soet woorde van liefkosing
Gerusstellings oor foute van gister
Ek voel nie die warm hand op my rug
Wat my hartklop stil
My omvou en my gemoed hoog lig
Die sagte reuk van vrede het verdwyn
Soet waters van rus het opgedroog
En so ook die wyn
Word mens dan so vinnig oud?
Onbewus van verandering
Binne klop my hart stadig, benoud
