Elfriede Dreyer is buitengewone professor aan Unisa in die Departement Kunsgeskiedenis, Beeldende Kuns en Musiekwetenskap en ’n NRF-gegradeerde navorser. Onlangse kuratoriale projekte was Non-place (2016) by Moór-galery, Franschhoek; Terra (2015) by Oliewenhuis Kunsmuseum in Bloemfontein; Titus Matiyane’s Panoramas of the BRICS Capitals (2015) by die UJ-galery; algehele kurator Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in 2015; en die Nomad bodies-uitstalling (2014) by die Koninklijke Akademie vir Beeldende Kunst aan Artesis Universiteit, Antwerpen. In 2005 het sy Fried Contemporary Kunsgalery & Studio in Pretoria gestig en sy was die kurator daarvan tot April 2014.
Haar akademiese loopbaan strek oor meer as 25 jaar aan Unisa en die Universiteit van Pretoria en sy het internasionaal al met verskeie universiteite saamgewerk. Elfriede het in Suid-Afrika en Nederland gestudeer en is ’n spesialis in senior voorgraadse en nagraadse studies. Sy het wyd gepubliseer, beide plaaslik en internasionaal, en haar navorsing, NRF-gradering en bedryfsverwante ervaring het betrekking op Suid-Afrikaanse eietydse kuns, utopiese studies, post-Afrikanisme, kuratoriale praktyk en die verwantskappe tussen kuns en tegnologie. Sy is ook self ’n kunstenaar en het al wyd uitgestal, ook internasionaal, en haar konsepte hou met bogenoemde inhoud verband.