
Egon
Egon is gebore in die skadu van Tafelberg en het tussen daar en die Hexsrivierberge groot geword. Sy het haar skoolloopbaan op Worcester begin en op Stellenbosch in maatskaplike werk graad gevang, maar die belangrikste invloed op haar lewe was die jare op Herschel in Claremont, waar haar moeder hoof van die laerskool was. Daar het Egon haar liefde vir kuns, musiek en letterkunde, veral Shakespeare, ontdek.
Nadat sy in 1975 getroud is, het hulle op baie plekke gewoon - Oudtshoorn en Kaapstad, Bothaville en Nelspruit, en tussenin nog twee jaar in Skotland. Egon ontdek egter haar ware tuiste in 2002 aan die noordkus van Israel.
Sy is die trotse moeder van drie: haar oudste seun is getroud, woon en werk nou in PE; die tweede is rekenmeester in Londen, en haar prinses is arbeidsterapeut in Kaapstad.
Egon en haar vrou werk as Engelse onnies aan twee verskillende kolleges, maar hulle gee ook privaatlesse vir volwassenes. Dié twee se groot liefde is reis en fotografie.
Sedert haar vestiging in Israel het Egon haar in veral die Holocaust-letterkunde - fiksie sowel as memoir - verdiep. Haar skrywes op LitNet draai dikwels om hierdie onderwerp, so asof die Holocaust die hartjie is van 'n doolhof wat sy beide wil en nie wil binnedring nie.
Opgedateer/Updated: 2009-04-06
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za
