Egmont Rohwer

Egmont Rohwer is in 1954 in Stellenbosch gebore. Hy behaal sy MSc in Fisiese Chemie cum laude aan die Universiteit Stellenbosch (1978) en sy PhD in Chemie aan die Randse Afrikaanse Universiteit (1982). Hy is sedert 1985 professor in Analitiese Chemie aan die Universiteit van Pretoria en is ook onlangs as hoof van die Departement Chemie aangestel.

Sy navorsingsbelangstelling behels die instrumentele ontwerp en ontwikkeling van analitiese metodes in chromatografie en massaspektrometrie. Die dryfveer hiervoor is analitiese uitdagings in onder andere omgewingsbesoedeling, die geurstof‑, voedsel‑ en wynindustrie, die petrochemiese industrie, plaagbeheer en forensiese chemie. Hy het ook ’n wye belangstelling in die wetenskap en tegnologie, veral in alle aspekte van volhoubare ontwikkeling (voedsel‑, water‑, gesondheids‑ en energievoorsiening).

Onder sy leiding het reeds 22 MSc‑ en 9 PhD-studente hulle studie in Chemie voltooi. Hy is outeur en mede-outeur van 60 artikels in internasionale vaktydskifte, en het meer as 150 bydraes by internasionale en plaaslike simposia gelewer.

Hy was lid van die onderhandelingspan wat Suid-Afrika verteenwoordig het tydens die opstel van die internasionale Stockholm Konvensie oor persisterende organiese besoedelstowwe (POP’s) en dien op ’n aantal plaaslike en internasionale komitees. Hy is ’n navorsingsgenoot van die Ernst Oppenheimer-gedenktrust en ’n Alexander von Humboldt-beurshouer (met altesaam twee jaar studieverlof aan die Instituut vir Fisiese Chemie by die Tegniese Universiteit van München, Duitsland). Sedert 1993 het hy ’n B3-navorsersgradering by die NNS. Hy ontvang in 2009 ’n toekenning as Uitstaande Presteerder (Akademies) van die Universiteit van Pretoria.

 

Opgedateer/Updated: 2010-10-18

Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za 
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za

Top