Desiré Lyners Volkwijn

Ek is gebore in wat destyds Namakwaland genoem was, maar het op Oudtshoorn grootgeword.  Na matriek is ek na UK, waar ek ’n B in tale verwerf het.  Na ’n onderwyskursus het ek by verskillende hoërskole in die Skiereiland onderwys gegee.  Jare later is ek terug UK toe vir ’n Hoër Diploma in Biblioteekwese.  Aan die begin van 1974 is ek en my gesin VSA toe, waar my man ’n M in Godsdiens behaal het en ek as kinderbibliotekaresse gewerk het.  Toe hy ’n standplaas kry as leraar, het ek by verskeie laerskole as bibliotekaresse gewerk het. (Die keuse van laerskole was myne -- ek het nie kans gesien vir die hoërskool bevolking nie! ) In 1986 het ek by ’n plaaslike universiteit ’n M in biblioteekwese en inligtingsdiens behaal het.  Aartsbiskop Tutu was die spreker by die gradeplegtigheid; ek onthou dat hy my op die wang gesoen het!

 Nadat ek in 1999 afgetree het, is ek en my man terug Kaaptoe vir ’n vyfjaar-lange termyn as sendingwerkers vir ons kerkgenootskap.  Toe tree ek vir ’n tweede maal af.  Nou bestee ek baie tyd aan gemeente-aangleenthede en dien in verskeie kommissies in die gemeente.  Ek het ook as vrywilliger diens gedoen by ’n plaaslike laerskool-biblioteek.

Dit was ’n man in die gemeente wat weer by my ’n begeerte wakker gemaak het om te skrywe; sy groep ontmoet elke Vrydag, regdeur die jaar en ek woon die byeenkomstes by so dikwels as ek kan.  Ons lees dan of ons eie werk of die werk van ander digters.  Hy het ook ’n poësie-aand by ons gemeente gereël en nadat ons ons gedigte voorgelees het, is hulle in ons gemeente se nuusbrief gedruk.

Kobus Visser het my vreeslik aangemoedig om my skryfwerk in te stuur.

Afgesien van skryf, sluit my belange in, natuurlik, my kerk, brei, hekel, tuinmaak, kook en lees.

Ek en my man het twee volwasse dogters.

Opgedateer/Updated: 2010-07-21

Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za

 

Top