Derrich Gardner

Die radiogogga het Derrich op Universiteit gebyt. Hy begin sy loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf by Radio Highveld in 1987. Toe die stasie in 1997 (Highveld Stereo) verkoop is, verskuif hy na Jacaranda 94.2fm waar hy die Saterdagoggendprogram aangebied het. Later was hy die man agter die mikrofoon tussen drie en sewe saans, toe ontbyt en nou is hy die man saam met wie Suid-Afrika huistoe gaan op RSG se Tjailatyd.

Sy gemak agter die mikrofoon het aan hom die geleentheid gebied om ook sy plek vol te staan in die televisiebedryf. Hy was reeds die aanbieder van verskeie programme. Opvoedkundige mediese programme soos Eduspectrum, die gewilde natuurlewe program 50/50, aanbieder van Crime Stop en ‘n reeks programme wat handel oor die sub-kulture in SA genaamd Shadow World is maar enkele van die hoogtepunte.

Derrich Gardner het ‘n huishoudelike naam geword as kontinuïteitsaanbieder vir SABC 2 en die ou TV1. Hy werk later as veldaanbieder vir die gewilde program Pasella.

Deesdae is hy lid van die kykNet familie waar hy veldaanbieder vir Kwêla en ook die aanbieder van DKNT, oftetwel Die kykNet Top-Tien, is. Hier het hy al die geleentheid gehad om van die land se bekendste musici as ateljeegaste te hê.

Bron: www.rsg.co.za




Opgedateer/Updated: 2006-11-22
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za 
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za

Top