Derek Litthauer

Derek Litthauer is op 19 Junie 1955 op Graaff-Reinet gebore. In 1972 voltooi hy sy skoolopleiding aan Union High, Graaff-Reinet, waarna hy sy universiteitsopleiding aan die Universiteit van Port Elizabeth ontvang. In 1976 behaal hy die graad BSc met Biochemie en Chemie as hoofvakke, en in 1977 HonsBSc in Biochemie (cum laude). In April 1983 behaal hy die PhD-graad in Biochemie aan die Universiteit van Port Elizabeth.

Sedert 1981 is hy in diens van die Universiteit van Port Elizabeth, eers as tydelike dosent en sedert 1983 as junior lektor. In 1988 en 1989 werk hy as besoekende wetenskaplike aan die W. Alton Jones Cell Science Centre in die VSA. Aan die einde van 1991 verlaat hy die UPE om as senior lektor by die Departement Mikrobiologie en Biochemie by die Universiteit van die Vrystaat aan te sluit, waar hy later as medeprofessor en sedert Januarie 1998 as professor diens lewer. Van 1 April 1998 tot 30 September 2002 dien hy as departementele voorsitter van hierdie departement.

Sy belangstellings sluit die verband tussen die struktuur en funksie van proteïene in. Sedert sy diensaanvaarding aan die UV draai sy navorsing hoofsaaklik om die kinetika en struktuureienskappe van lipases en hulle toepassing in selektiewe chemiese omskakelings. Die afgelope drie jaar fokus hy op metagenomika (die studie van mikrobiese populasies en die ontdekking van nuwe proteïene deur DNS direk uit omgewingsmonsters te isoleer), en hy maak hoofsaaklik van hoë-kapasiteit‑ DNA-volgordebepalingstegnologie gebruik. Hy het onlangs die volledige DNS-opeenvolging van Thermus scotoductus SA01, wat sy oorsprong in ’n diep Suid-Afrikaanse goudmyn het, voltooi.  

Hy het verskeie navorsingsbesoeke aan laboratoria in Frankryk, Swede en Duitsland meegemaak. Hy is tans deel van ’n navorsingsuitruilooreenkoms met die Georg-August-Universiteit van Göttingen. As navorser het hy ’n C2-gradering.

Hy het altesaam 37 bydraes by buitelandse en 74 by plaaslike kongresse gelewer en is die skrywer van 41 publikasies in internasionale vaktydskrifte. Bykans 30 MSc‑ en 10 PhD‑studente het onder sy leiding afgestudeer. Hy dien tans op die Nasionale Raad van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Biochemie en Molekulêre Biologie.

Hy is getroud met Annelie en het twee dogters, Alida en Suzanne.

 

Opgedateer/Updated: 2010-10-18

Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za 
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za

Top