
Cornelle Carstens
Cornelle Carstens is oorspronklik ’n Suid-Kapenaar, maar het grootgewoord tussen die Vrystaatse sonneblomme en haar diepste familiewortels lê in die Hantam-Karoo. Die verhoog het vir haar ’n amper magiese aantrekking gehad sedert haar kleindae en sy begin dans op 4-jarige ouderdom. Op die klein dorpie waar sy grootgeword het, is daar van elke geleentheid gebruik gemaak om 'konsert' te hou. Sy verwerf haar Honneurs-graad in Kommunikasiekunde met lof aan die eertydse Randse Afrikaanse Universteit, maar die lokroep van die voetligte was steeds daar. Nagraads studeer sy verder onder Milla Louw en verwerf haar lisensiaat in Drama by die Akademie vir Dramakuns met lof. Hierna begin sy ’n loopbaan in die korporatiewe bedryf as produksie- en later kreatiewe hoof van prominente produksiehuise in Johannesburg. In 2005, neem sy ’n lank-beloofde sabbatsreis terug na die Suid-Kaap en ontdek weer ’n ou passie, die digkuns en neem onder andere deel aan een van LitNet se poësie-slypskole. Sy neem ook deel aan die Skrywersgilde se landwye poësie-kompetisie waarin sy tweede eindig. Intussen raak sy betrokke by die kreatiewe- en kunste-ontwikkelingsbediening van ’n gemeente in Mosselbaai. Op hierdie manier raak sy dan betrokke by die konseptualisering, afrigting, regie en produksie van ’n interkerklike Kersproduksies, soos KRUISPAD wat in 2009 opgevoer is. Sy het gedurende hierdie proses ’n klein teatergeselskap, The ConArtists, bestaande uit akteurs, dansers, sangers en kletspraters (Rappers) in die Mosselbaai Korrektiewe Jeugsentrum begin, ’n inrigting vir jeugmisdadigers tussen die ouderdomme van 15-25 jaar. Cornelle het ’n 5-jarige seuntjie, Ethan-John. Sy dans steeds, al beskryf sy haarself as ietwat van ’n veteraan. Haar ander passie is ougoed of 'goeters met stories' en daarom is sy ook mede-eienaar van Deja Vu Vintage Clothing and Accessories op Mosselbaai.
Opgedateer/Updated: 2009-12-11
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za
