Charl van Heyningen

Charl van Heyningen se sangloopbaan begin vroeg reeds, en van die begin af word hy lof toegeswaai en met entoesiasme ondersteun deur beide die publiek en kritici.

Hy begin met sanglesse by Prof Werner Nel in sy matriekjaar, en studeer later by die Musikhochschule in Muenchen, Duitsland onder die wêreldbekende sangpedagoog, Prof Hanno Blaschke. Hy verskyn in talle konserte en oratoriums, en maak op die bloedjong ouderdom van 21 sy operadebuut in Die Towerfluit van Mozart. Daarna sing hy heelwat hoofrolle as liriese bariton in operas soos Die Barbier van Seviglia (Figaro), vir PACOFS, Carmen (Morales) vir TRUK, Die Huwelik van Figaro (Die Graaf) en Don Giovanni (Die Don), beide by Roodepoort Staatsteater.

In 1998 neem hy sy eerste Afrikaanse solo-CD, MASKERS, op en ontvang ’n FNB SAMA-nominasie vir Beste Manlike Kunstenaar, ’n uitsonderlike prestasie nie net vir ’n debuutalbum nie, maar veral vir ’n Afrikaanse album.

Tussendeur verwerf hy ’n graad in die Regte, word ’n akteur (Wolwedans in die Skemer, Kooperasiestories, Die Losprys, ens) en is sterk in aanvraag as stemkunstenaar vir radio- en TV-advertensies. Hy is getroud met Rachel en hulle het drie kinders, Cara, Emma en Charl Junior, en wanneer die kinders hom ’n tydjie gun, speel hy tennis, ry fiets en geniet sommer die buitelewe in die pragtige Somerset-Wes, Kaap, waar hulle woon.

Charl se pas gestigte maatskappy, Charl van Heyningen Entertainment Enterprises, is baie bedrywig in verskeie vertakkings van die vermaaklikheidsbedryf - produksie, bemarking en publieke skakelwerk.

 

Opgedateer/Updated: 2007-05-30
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za 
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za

Top