André Ferro

Ferro is in die middel van die nag sonder skoene gebore. Sy liefde om kaalvoet te loop het ononderbroke voortgeduur tydens sy kinderdae. Gelukkig het hy 'n klein skool noord van Pretoria bygewoon waar kaalvoet loop toegelaat was. Jare later, tydens sy eerste oorsese reis, het hy die meeste van die tyd stapskoene gedra - nie omdat hy wou nie, maar omdat dit winter in Europa was en hy nie sy Afrika-voete as gevolg van die koue wou verloor nie.

Sy kinderjare was relatief sorgeloos. Hoogtepunte was 'n besoek aan die Johannesburgse dieretuin, asook die Oorlogmuseum; seevakansies in Natal; en 'n besoek aan die Kaap toe hy elf jaar oud was. Hy het ook graag fiets gery, fliek toe gegaan, musiek geluister en dinge ontdek. Alhoewel hy nou en dan saam met sy ouers met vakansie gegaan het, was dit nie genoeg vir hom nie. Een van sy vroegste herinneringe was die behoefte aan reis, werklik reis, sonder om deel te wees van 'n georganiseerde toer.

Soos talle ander leerlinge moes Ferro ook laerskool en hoërskool toe gaan. Hy het nie skool gehaat nie, maar was nog steeds bly wanneer vakansies aangebreek het. Na hoërskool het hy vir vier jaar by die Universiteit van Pretoria gaan swot. Nadat hy sy graad verwerf het, moes hy diensplig gaan doen. Slegs 'n week nadat sy weermagdae iets van die verlede was, het hy vir die eerste keer op sy eie gaan reis. Op daardie dag het hy uiteindelik besef wat die woord vryheid beteken. Hy het besluit dat die soeke na aardse vryheid die tema van sy lewe moet word.

Die volgende tien jaar het hy soveel as moontlik rondgeswerf. Geld en tyd was sy enigste vyande, maar hy het gereeld vir 'n paar jaar gewerk, dan alles verkoop en weer gaan reis. Telkens het hy platsak, maar gelukkig, terug huis toe gegaan.

Tydens een van sy reise het hy sy vrou ontmoet. Sy is Frans en het vyf jaar saam met hom in Suid-Afrika gaan woon. Intussen is hulle seun en dogter gebore. In 2006 het hulle besluit om Frankryk toe te verhuis.

Ferro bly nou saam met sy gesin in Provence, tussen Aix-en-Provence en Avignon. Hy het nog nie die meisie van Avignon ontmoet nie, loop nog steeds soveel as moontlik kaalvoet rond, leer die Fransmanne hoe om vleis te braai, dring daarop aan dat sy kinders half Afrikaans en half Frans is, praat net Afrikaans met sy seun en dogter en verlang daagliks terug Suid-Afrika toe. Hy reis so gereeld as wat hy kan saam met sy familie in Frankryk en hoop ook om later die omliggende lande te gaan besoek.

Opgedateer/Updated: 2008-11-05
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za

Top