
Amanda Lochner
Amanda Lochner beklee tans die posisie van emeritusprofessor in die Departement Biomediese Wetenskappe, Fakulteit Gesondheidswetenskappe, aan die Universiteit Stellenbosch. Sy het haar voor- sowel as nagraadse opleiding aan die Universiteit Stellenbosch ontvang. Sy het daarna twee jaar aan die Universiteit van Texas in
Haar navorsing het deurgaans op iskemiese hartsiekte gefokus, waarvan die voorkoms in die RSA van die hoogste in die wêreld is. Die doel van hierdie navorsing is om meer insig te verkry in die molekulêre en sellulêre gebeure in die hart tydens iskemie (soos wat tydens ’n hartaanval plaasvind) en herperfusie van die iskemiese hart (soos ná koronêre-vatomleiding), sowel as die ontwikkeling van strategieë om hierdie veranderinge te voorkom of te onderdruk. Tydens die afgelope paar jaar het sy en haar medewerkers toenemend gefokus op die hart by persone met vetsug en gepaardgaande tipe 2 diabetes mellitus, die identifikasie van faktore betrokke by die ontwikkeling van ’n kardiomiopatie en maniere om dit te voorkom.
Tot op hede het sy 182 artikels in eweknie-geëvalueerde wetenskaplike tydskrifte gepubliseer, en sy lewer gereeld voordragte by internasionale byeenkomste. Sy tree gereeld op as beoordelaar van wetenskaplike artikels vir minstens 10 internasionale hoë-impakfaktorjoernale. Prof. Lochner is aktief betrokke by die opleiding van nagraadse studente en 21 PhD‑, 18 MSc‑ en 24 HonsBSc‑studente het onder haar leiding gepromoveer.
Verskeie onderskeidings het haar te beurt geval, byvoorbeeld die Rektorstoekenning vir navorsing aan die Fakulteit Gesondheidswetenskappe in 1999 en die goue medalje vir natuurwetenskaplike prestasie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns in 2010.
Sy is getroud met prof. Jan Lochner, emeritusdekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, en die egpaar het vier kinders.
Opgedateer/Updated: 2009-11-05
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za
