
Adriaan Meyer
Adriaan Meyer debuteer op 16 met ’n kortverhaal in Sarie, wat in ’n bloemlesing opgeneem en in Nederlands en Portugees vertaal word. Twee ander bloemlesings volg, asook pryse in kortverhaalkompetisies en ’n oorsese reis as wenner van die Vlaams-Afrikaanse Opstelkompetisie. Op skool kompeteer Meyer op die planke (maar agter die gordyne) met Francois Toerien, Nicole Holm, Hennie van Greunen, Malan Steyn en ander, en ontvang Beste Produksie, Beste Nuwe Teks en Beste Nuwe Regisseurs by onderskeidelik die Fraserburg-, Logan- en Brackenfell- Skoletoneelfeeste, as medeskrywer en -regisseur van die eenbedryf as hy weer kom – wat hy in 2004 skiet as ’n kortfilm met Antoinette Kellerman in die hoofrol. By die KKNK 2004 ontvang hy die nuutingestelde Jong Kanna vir Beste Prestasie in Studenteteater vir sy teks en regie van Prinsloo Versus oor die lewe en werk van die kontroversiële skrywer Koos Prinsloo. In 2005 by die KKNK regisseer hy sy teks Erwe, ’n finalis in die Sanlam Teksskryf-kompetisie, en word Etenstyd, sy vertaling van die Britse dramaturg Steven Berkoff se Lunch, professioneel opgevoer. Tans is hy besig met ’n skeppingstrilogie; ’n herskrywe van Danté se Divinia Comedia; inskrywings vir volgende jaar se feeste: Ouhout, Bohaai oor Boggerôl (Much ado about nothing), Swartskaap; sy meestersgraad in Drama en Afrikaans & Nederlands; en sy honneursproduksie van Lorca se Bloedbruilof (HB Thom, 11-14 November). As skrywer van twaalf opgevoerde tekste staan hy aan die begin van sy loopbaan.
Opgedateer/Updated: 2006-09-01
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za
