As dit donker word

  • 0

Foto: Canva

As dit donker word

as dit donker word
breek skadu’s los
uit meubelstukke
uit mure
uit gedagtes
uit my ego

om te kom spook
by ons wat gevang was
in euwels van gisters
toe so baie goed
nie saak gemaak het nie

ander het wel
om te lewe het saak gemaak
dit maak nie saak hoe nie
dit het gegaan om te oorleef
die prys was betaal

party ten koste
ander ten skaamte
tog moes die lewe aangaan
al was dit net
vir ’n stompie
of ’n stukkie brood
omdat ’n mens moes rook
’n mens moes eet

of vergaan
in niks van niks en lus
so was die lewe
so was baie se gisters
toe dit donker was
toe die lewe wreed was

met maklike keuses
wat vandag ’n duur prys vat
van jou geheue
van jou vrede
of om vrede te maak
dat jy maar net ’n sondaar was

wat saam met elke wind
geseil het
na jou bestemming
al was dit net om bedwelmd te wees
te bly – dag en nag
toe jou lag in trane geëindig het
in die gutters –
waar sulke drome net vrek

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top