André P Brink se afsterwe

  • 0
Ampie Coetzee (foto: Naomi Bruwer)

André P Brink was een van die mees prolifieke romanskrywers in Afrikaans. Hy het eintlik bekend geraak met sy eerste roman, Lobola vir die lewe (1962) – en dit het hom ook een van die eerste romanskrywers gemaak van 'n wegbreek literêre groep, die Sestigers (met prosaskrywers soos Jan Rabie, Etienne Leroux, Chris Barnard, Dolf van Niekerk). Sonder dat hulle eintlik 'n “beweging” was, het hulle die politieke hegemonie van die tyd teengestaan; nie blatant nie, maar deur fiksie. Stories wat as seksueel gevaarlik beskou is, of van verdagte politiek was, sou deur die mag van die heerser vernietig word. So is geglo.

Om hierdie redes het daar in die ou dae 'n Publikasieraad ontstaan; en die eerste romans waaroor daar sekerlik gewonder is deur organisasies soos die kerk byvoorbeeld, was Brink se Lobola vir die lewe en Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins (1962). Gelukkig was die hoof van die Raad 'n gewaardeerde letterkundige, Gerrit Dekker. Hy en sy komitee het gekeer dat hierdie romans verbied word.

Maar dit was die laaste redding. 'n Nuwe hoof is aangestel: Lammie Snyman. En hy het begin sny. Die eerste verdagte roman was André se Kennis van die aand (1972), uitgegee deur 'n klein uitgewer, Daantjie Saayman se Buren-uitgewers. Die roman is in 1974 verbied. Die groot beswaar daarteen was dat 'n bruin man, Josef Malan, en 'n (Engelse) vrou, Jessica Thomson, 'n liefdesverhouding gehad het. Dit was teen die wet dat bruin/swart seksueel met wit kon verkeer. Dan was daar ook nog die feit dat Josef “sy mense” begin bewus maak het van die onreg van apartheid teen hulle. Maar Josef kon die stryd nie stry nie, en hy vermoor Jessica. In die gevangenis, voor sy teregstelling, vertel hy die verhaal van sy lewe. En apartheid het gewen.

Die kwessie van sensuur, van vryheid van spraak, was die tema vir die hofsaak oor die verbod. 'n Bom het tussen die skrywers en letterkundiges van die tyd geval.

Daar was 'n protesvergadering van besorgde letterkundiges, skrywers, ernstige lesers, joernaliste en rubriekskrywers van koerante. Coenie Slabber en Rykie van Reenen byvoorbeeld het mense begeester om deel te word van die verset. Op die vergadering en by ander plekke is geld vir die hofsaak gegee. Buren moes gehelp word.

Na aanleiding van hierde gebeurtenis is daar 'n klein protesuitgewer gestig, met die naam Taurus (die Bul, nogal!).

Skrywers sou nou versigtig moes wees; maar 'n ernstige skrywer skrik nie maklik nie. Brink het aangegaan. Hy was huiwerig om sy roman 'n Droë wit seisoen (1979) deur 'n ander uitgewer uit te gee. Taurus is genader en die boek is daar uitgegee. Die roman het ook direk die Suid-Afrikaanse politiek van die tyd betrek. Taurus het ook Houd-den-bek uitgegee (1982). En later ander boeke wat ook riskant sou kon wees volgens die Publikasieraad, soos Breyten se tronkbundels, en ander.

Die verhaal van Taurus moet nog vertel word: die geheimsinnigheid om “gevaarlike” boeke te laat publiseer, én nog te versprei ook. 'n Uitgewer kon gedagvaar word as dit boeke uitgee wat verbied kan word. Met die hulp van Coenie Slabber is daar betroubare “intekenaars” geïdentifiseer wat boeke deur die pos sou ontvang en “skelm” betaal.

Dit het alles by Brink begin, en uitgekring tot 'n verset teen 'n hegemonie. Daardie verset het saamgehelp om 'n einde aan apartheid te bring. En om te bewys dat die boek, die ernstige betrokke boek, die mag het om politieke magte te ondermyn.

André was 'n lang man, vriendelik maar skamerig, ordentlik, 'n gentleman, met 'n passie vir rugby – en vir mooi vrouens!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top