Dagsê menere, ek verwys na julle kommentaar onderaan my brief van 1 Oktober.
Ek stem saam met Brian oor die woord 'model', dit is presies die storie. Ek het 'n probleem met die huidige model en beskou hom as onvolledig, nog nie goed uitgetrap nie. Onthou julle nog die ou chemie van so 'n paar eeue gelede, die met die twee hakies aan die suurstofatoom en die een hakie aan die waterstofatoom byvoorbeeld, sodat jy H2O kry? Later het die elektronbane gekom wat dinge bietjie beter verklaar het en toe nog later die orbitale waar 'n elektron homself iewers bevind wat toe dinge nog beter verklaar het en waarmee beter gewerk kon word.
So voel ek oor die model van evolusie; nie dat hy verkeerd is nie maar hy trek nog op die hakiestadium van die destydse chemie.
Die hakie-chemie is vir my makliker verstaanbaar so ek erken die moontlikheid bestaan dat die evolusiemodel al lankal by die hakiestadium verby is en dat dit my kennis van die storie is wat daar vasgehaak het. Dis moontlik, ek gee toe maar daar is 'n paar dinge wat, alhoewel ek al baie gevra het, niemand nog mooi kon verduidelik nie. Miskien is matriekbiologie nie genoeg om dit te verstaan nie.
Byvoorbeeld: Daar is geweldig uiteenlopende toestande hier op aarde waar dinge kan bestaan. Lewe gedy op die onmoontlikste plekke, dink maar aan daardie wurms naby die vulkaniese pype in die diepsee ens ens. Die mens self is redelik aanpasbaar (onthou evolusie en aanpassing is nie dieselfde ding nie), vergelyk maar aan die toestande waarin onderskeidelik die Boesmans (ek verstaan dat genoemdes hierdie naam bo Khoi of San verkies) en die Eskimo's lewe.
Dit sou dus nie vir ouens met ses vingers 'n probleem gewees het om in, sê Pretoria, te leef nie (dink net hoe sou hulle harp, kitaar en viool kon speel). Lukrake mutasies kon dan selfs met sewe vingers en tone vorendag gekom het of wie weet wat nog maar in elk geval wesens wat dit nie te moeilik sou vind om in Pretoria se weer te oorleef nie. Lukrake mutasies sou tot gevolg gehad het dat die wêreld so vol wesens sou wees dat jy nie tussen die spesies sou kon onderskei nie, dus NIE die diskrete spesies wat jy vandag kry nie. Of is lukrake mutasies nie meer deel van die model nie?
Dan is daar nog parasiete waarvan die gashere miljoene jare uitmekaar op die evolusieleer sit, byvoorbeeld een siklus in 'n mier en 'n ander in 'n skaap. En hierdie parasiet het die ongelooflikste vermoë; as die tyd aanbreek om van die mier na die skaap toe te gaan verander hy die mier se gedrag en die gaan sit dan net, totaal onmierlik, op 'n grashalm en wag om gevreet te word. Nou waar kom lukrake mutasie, oorlewing van die mees geskikte hier in? Of was die mier/skaap-kombinasie bloot 'n geskikte niche?
My gunstelingraaisel wat evolusie betref is die oogpister; hy sou hierdie rare vermoë om 'n kokende toksiese stof te spuit ontwikkel het omdat sy vlerke te stadig oopvou om sy vyande te ontvlug. Ek meen hallo! Hy het reeds vlerke, hoekom nie aan die goed werk nie eerder as om hierdie gesofistikeerde chemiese arsenaal te ontwikkel? En hoekom pleeg bye selfmoord wanneer hulle hul eiendom verdedig? Ander goed gaan ook dood in gevegte maar hulle sneuwel, niks se gekamikazi-ery nie.
Daar is nog baie ander goed maar ek groet nou maar.
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan,
Hallo Jan, jou kritiese ekstrospeksie is inderdaad suiwer wetenskaplik... dis hartgrondige denkers begerig om te weet soos jy wat die geleidelike ontwikkeling van die mensdom se hele wete aanspoor... hoe wonderlik is die besef dat daar nog genoeg oor vir menige en opkomende geslag is om die antwoorde op die raaisels van ons bestaan te ontdek...
Jan Rap
Angus se antwoorde aan jou is in die kol. Doen jouself ’n guns en lees ’n bietjie van die populêre boeke oor evolusie en jy sal uitvind dat dit waarvan jy praat juis deur evolusie verklaar word. Die relatiewe swak ontwerp van vele spesies dui juis op die afwesigheid van ’n intelligente ontwerper. As jy egter vanuit die hoek van klein aanpassings oor ’n baie lang tyd redeneer kom jy agter dat al hierdie anomalieë pragtig verklaar word en sin maak.
Een van die kosbaarste besittings wat ek het, is ’n 1978 uitgawe van Richard Dawkins se The Selfish Gene wat deur hom geteken is. Dit bly steeds nog vandag ’n merkwaardige boek en verduidelik al die konsepte waarmee jy stoei in gewone landbouterme. Nog een van sy ander boeke, Climbing Mount Improbable, is net so goeie boek. Soos ek jou skrywes hier op die Sê lees is ek oortuig daarvan jy sal dié boeke uiters fassinerend en openbarend vind
Groetnis
Thomas
Nee Thomas, Angus is nie in die kol nie.
Angus, evolusie en aanpassing (en dit bring my sommer by teling ook) is verskillende goed. As jy yster pomp gaan jy groter spiere kry; jou liggaam gaan aanpas om die ekstra (nuttelose) werk te doen maar dis nie evolusie nie; jou seuns gaan nie gespierd gebore word nie want jou oefenry het nie 'n genetiese verandering meegebring nie. Dit mag so wees dat fiksheid (ysterpomp onder andere) 'n belangstelling van jou kan wees en (geneties) kan jou van jou kinders daardie belangstelling deel. So kan dit gebeur dat jou gymseuns gymmeisies ontmoet en as die gesonde mense, met 'n passie vir fiksheid, trou dan gaan hulle kinders van kleins af oefen en ook mooi gesond en gespierd wees. Hulle is uit hoofde van hulle omgewing dan ver voor 'n ou met 'n pa wat soos Ghandie lyk en 'n ma soos moeder Theresa.
Dit is dan ook hoekom die swart Amerikaanse so goed in sport is: Die slawehandelaars het die bestes, geondstes en sterkstes, uitgesoek en die wat die skeepsrit oorleef het was die sterkste van die sterkstes. Dit is seleksie deur teling. Die bulldog, byvoorbeeld, is aangepas deur teling, hy't nie evoleer nie.
Dankie Thomas, vir die name van daardie boeke; sal dit bietjie nagaan. Ek het hier 'n boek, Life Ascendancy, The Ten Great Inventions of Evolution deur ene Nick Lane en na so'n honderd of wat bladsye agtergekom the man talks with a misty profundity soos Edgar Whitehead dit stel. My baas het dit beter gestel, elke keer na 'n vergadering het hy gesê bullshit baffles brains. Hierdie boek van Lane is beslis nie bedoel om evolusie aan die leek te verduidelik nie tensy jy van die leke is met 'n PhD in biologie en organiese chemie (en daar is min van hulle). Landbouterme is die ding vir my, ek sal daardie boeke wat jy van praat in die hande probeer kry.
Groetnis
Jan Rap:
Beste Jan Rap,
Angus.
Jy verwys nogals dikwels in jou kommentare na Wikipedia en dan gee jy jouself voor as `n voortreflike wetenskaplike. Bronne 101 se vir jou dat Wikipedia nie `n betroubare bron is nie, en daarom die rede hoekom dit in geen amptelike publikasies gebruik mag word nie...