LitNet Akademies-resensie-essay: Vir ’n speelse lewe – Etienne van Heerden se Klimtol

  • 0

Titel: Klimtol
Outeur: Etienne van Heerden
Uitgewer: Tafelberg
ISBN:9780624057796

 

Koop Klimtol by Kalahari.com

 

I

Wat is dit wat ’n mens aantrek na ’n spesifieke kunstenaar se werk, of na ’n spesifieke kunswerk?

Vir my het dit dikwels te make met protes: die aard en gehalte van die protes wat deur ’n kunswerk aangeteken word. Ek bedoel nie hiermee dat ek ’n voorkeur het vir “proteskuns” – of “betrokke” kuns – as ’n genre nie. Dit gaan nie vir my in die eerste plek oor kuns wat standpunt inneem oor eietydse politieke kwessies nie. Ek verwys na iets dieper: ’n soort protes teen die lewe self, oftewel teen hoe die lewe (óns lewe, myne en joune) historiese vorm kry en gekortwiek word deur politieke en ekonomiese stelsels, maatskaplike verdelingslyne, moeë drome, verbreekte beloftes, ons eie blindheid en afgestompheid, droogtes van die land en die hart.

’n Mens sou seker daarna kon verwys as die kritiese funksie van die kunswerk; ’n funksie wat egter weliswaar nie beperk kan word tot die eksplisiete uitspreek van kritiek nie. Eerder as retoriese stellinginname of kommentaar het die kritiese funksie te make met die bereidwilligheid van ’n kunstenaar om die moontlikheids- en onmoontlikheidsvoorwaardes van ons bestaan – dit wat soms te gladweg “die menslike toestand” genoem word – te ondersoek; om die gefnuikte toenadering van self-en-ander, self-en-wêreld, self-en-self te beskryf, dit uit te lewer aan die (realistiese, tragiese, satiriese, distopiese, ens) verbeelding.

In die wêreldletterkunde sou ’n mens onlangse werke soos José Saramago se Blindness, Kazuo Ishiguro se Never Let Me Go en Cormac McCarthy se The Road kon noem: werke wat by uitstek ’n kritiese funksie vervul, wat die lewe wat ons lei, fundamenteel bevraagteken, wat met hierdie vraagstelling protes aanteken teen dit wat is.

Etienne van Heerden se Klimtol kan eweneens as kritiese roman gelees word, een wat bowenal uitmunt vir die helderheid, die hartstogtelikheid selfs, van die protes wat dit aanteken – teen die lewe wat vermors word op werk.


II

Op die oog af is Klimtol ’n roman oor speel. Van Heerden vind direkte aansluiting by Johann Huizinga se klassieke teks uit 1938, Homo Ludens: A Study of the Play Element in Culture. Huizinga se teks word in die roman se erkennings genoem en die hoofkarakter baseer sy verhoognaam, Ludo, eksplisiet op die term homo ludens, die spelende mens. Van Heerden put baie uit hierdie bron: Klimtol is besonder ryk aan besinnings oor speel. Met sy klimtol is Ludo Loeloeraai ’n metafoor vir die kreatiewe lewe as sodanig, vir die ernstige spel en die trieks van elke entertainer, insluitende die romansier. Ludo is egter ook ’n voertuig waarmee Van Heerden daardie magte beskryf wat téén die kreatiewe energie van speel – en die utopiese eienskap van speel, daardie vermoë om ander, parallelle wêrelde in die lewe te roep – te velde trek.

Klimtol is ’n ode aan speel, aan trieksters en hulle trieks, maar dit is ook ’n studie in ontnugtering en verydelde kanse. Die bevrydende eienskappe van speel word in Ludo Loeloeraai se lewe nie net aan bande gelê deur (en psigologies verstrengel met) die persoonlike skuldlas wat hy, nadat hy ’n jong seun omry, met hom saamdra nie. Dit word ook uitgelewer aan ’n meer algemene vorm van “skuld”: die feit dat hy (en wat dit betref is hy ’n Elkeman) in ’n wêreld leef waarin hy homself moet verkoop om materieel te oorleef; met ander woorde, waar daar van hom verwag word om te werk vir sy geld. Van Heerden se vertrekpunt, sy premis, is dus Huizinga se spelende mens. Die kritiese vraag wat sy roman aan die orde stel, is egter wat van die spelende mens word in ’n wêreld waar speel onder druk verkeer: waar dit op moralistiese wyse met afkeer bejeën word; waar dit gekommodifiseer en ekonomies gemanipuleer word; waar dit verstrengel raak met alles wat ons die lewe skuld.

’n Mens sou baie kon skryf oor die sielkundige en eksistensiële aard van Ludo se persoonlike skuldlas; en synde ’n deurlopende tema in Van Heerden se werk, is ek seker heelwat sal inderdaad hieroor geskryf word. Die roman se kritiese kern lê egter elders, naamlik in Ludo Loeloeraai se dapper maar (dalk?) gedoemde protes teen die regimentering, vervreemding en selfkommodifisering van werk. Die roman kom in opstand teen die historiese “erfskuld” van die kapitalisme, dit wat ons almal dwing om ons tyd, en toenemend die wese van wie ons is, ons self, ten brode te verkoop. In hierdie opsig is Klimtol die klinkendste, mees hartstogtelike protes teen die slopende kenmerk van werk wat ek nog in Afrikaans gelees het.

Die volgende uittreksels is vir my die hart van hierdie roman:

Ludo het gaan werk in ’n kantoor nes alle kantore en daar was lêers en riglyne en protokolle en vergaderings en mense het graag om ronde tafels gesit en planne maak en koffie gedrink en notas gemaak en mekaar getroef en agterna weggeloop na hul kantore en dan het al die mooi planne nes water in die grond weggesyfer, skielik was die grond weer hard en wit en jy sou nie dink daar was ooit blinkwater nie.

Werk het tussen hom en die wêreld ingeskuiwe en hy’t dit gebruik as skild teen die lewe maar ook as aanvalswapen, hy’t dit gebruik om wonde toe te dien en dit was ’n soort triek wat jy speel. [...]

Hoe langer hy in die staatsdiensgebou gewerk het hoe dikker het sy vel geword en later kon hy wanneer hy vyfuur uitklok en na sy huurkamer in ’n agterplaas loop nie meer die wind oor sy vel waardeer nie, dit was asof sy vel sterf en alle gevoel verloor en selfs die son het ophou tintel oor sy voorarms. [...]

Die werk by die Departement van Arbeid het van hom ’n slaaf gemaak en hom in kettings geslaan, dit was nie net ’n institusie waaraan hy verbonde was nie, dit was ’n ingryp in sy siel. Dit het hom geknel aan die Departement en hy’t gedink: Werk is nie net iets wat jy doen en waarvan jy Vrydagmiddae wegstap nie, dis iets wat jou vasmaak aan ’n ding wat jy ’n departement of instelling of maatskappy noem, dit word die asem in jou lyf. [...]

Hier in die Departement was hy vasgeketting aan hierdie ding wat hy nie naam kon gee nie en die naam Die Departement was al wat daar was waaraan hy kon dink. Mense het die naam gebruik asof hierdie departement ’n lewende ding was of ’n soort vader met gesag en dalk was dit en dalk het dit asemgehaal en gevreet en gelê en dink en gewag en beheer en sy asem by mense ingeblaas om hulle te skep tot slawe, hy weet nie.

Skynbaar was nie een van die ander wat saam met hom gewerk het hiervan bewus nie. Hy’t die jonges kwalik geneem vir hul gedienstigheid en hoe hulle die taal van vergaderings en lêers en stelsels en lynfunksies praat en hoe nie een opgekyk het buitentoe na hoe ’n swael duik deur die wind nie.

Nêrens het ’n opstandige woord geval nie, die sugte oor Vrydag wat ver lê was die sugte van bedeesde gevangenes wat hulle ’n ander lewe nie kon verbeel nie. [...]

Hy’t gesien hoe werk verneder en hy’t speel gekies. (130–2)

Let op Van Heerden se beskrywings. Werk het tussen hom en die wêreld ingeskuiwe. Dit was asof sy vel sterf en alle gevoel verloor. Werk het van hom ’n slaaf gemaak; dit was ’n ingryp in sy siel. Die sugte van bedeesde gevangenes wat hulle ’n ander lewe nie kon verbeel nie. Hy’t gesien hoe werk verneder. Hierdie sinne is nie net van die treffendste prosa wat Van Heerden al geskryf het nie, dit is ook die mees effektiewe verwoording van die aard van vervreemding nog in Afrikaans. Dit lewer siedende maar ook liriese protes teen die lewe; teen die wérkslewe. Dit kom in opstand teen die vervreemding wat ons letterlik aan eie lyf voel wanneer ons ons tyd en ons kreatiewe energie moet verkoop om te kan leef. Die storie van die kapitalistiese moderniteit is immers die toenemende onderwerping van die mens aan ’n streng tyd-ruimtelike orde van die werksplek en werksdag. Skielik is jou dae nie meer jou eie nie; skielik word jou tyd geweeg en onderwerp aan bestuur; skielik word jou “vryetydsbesteding” ’n vergunning, ’n weeklikse herinnering aan hoe onvry jy eintlik is.

Daarteenoor bevestig Ludo die utopiese potensiaal van speel; die wyse waarop dit ons toelaat om ons kreatiewe agentskap en die tyd self terug te eis:

Hy kyk hoe hy deur vertroude gebare gaan en al hoe meer begeesterd raak totdat hy nie van die wêreld om hom bewus is nie en dis net hy en die tou, die wonder van swaartekrag en spoed, die benutting van die kwartsekond, die uitspeel van sy egte self. Ja, dit is soos hy dit al bedink het. Wanneer ek speel, is ek ek. Homo ludens, die spelende dier ... (35)

Klimtol protesteer verder ook luid teen die ideologiese naturalisering van die werkslewe; daardie argumente waarmee ons almal grootgeword het, wat ons fantasieë van ontsnapping as luiheid en morele tekortkoming interpreteer, eerder as politieke verset teen verknegting en vervreemding, teen die diefstal van ons dae:

Hy’t telkens die dominee op Fraserburg se woorde onthou: “Speel is ’n euwel voor die Here.” Hy wou die dominee antwoord: “Dis wanneer jy speel vir ’n tjek of ’n koevertjie kontant dat die duiwel jou haal ...” (87)

“Pa, ek het ’n talent vir klimtol en dit is my erns.”

“Dis ’n speelding en dis geen werk wat tot selfrespek sal lei nie, jy gaan jou eie siel verloor en wie neem ’n man ernstig op wat trieks gooi?” (129)

Sy pa het hoog opgegee en sy argumente ver gaan haal en die frases het Ludo uit sy kinderjare geken: in die sweet van jou aanskyn en na God se beeld geskape.
“Daardie balletjie aan jou hand besondig jou hele lyf. Jy loop anders, jy loop soos ’n eendstert. Jy staan te lank voor die gangspieël. Jy kam jou hare soos ons nie ons hare hier kam nie. Kyk die blink klere in jou koffer. [...] Dis ligsinnig. (130)

“Dis mooi en als, maar watter doel dien dit? Het sy pa oor sy klimtolspelery gesê.

“Pa, speel is vir speel en dis anders as werk by Arbeidsake of Justisie of Waterwese. Daar werk jy vir geld.”

“Vir ander goed ook. Om vir jou vrou en kinders te sorg. Om by te dra tot jou mense. Om by te dra tot die Republiek.”

Hy’t afgekyk na sy hande. “Pa ...”

“En spelery lei tot onverantwoordelikheid.” (151)

Speel word tot tydverdryf en stokperdjie verminder in ’n konteks waar werk nie net as noodwendigheid beskou word nie, maar as morele plig. Familiële plig. Nasionale plig. Goddelike plig. Daar’s nie tyd vir speletjies nie.


III

Klimtol is egter nie bloot ’n eensydige viering van die meriete van speel teenoor werk nie. Dinge is uiteraard meer kompleks; en Van Heerden het nog altyd ’n besonderse sintuig gehad vir die kompleksiteite van ons laatkapitalistiese, mediadeurdrenkte en globaliserende wêreld; vir die groot kulturele skuiwe wat lewens op selfs die kleinste dorpies verander.

Ludo Loeloeraai is nie net die personifikasie van Huizinga se spelende mens nie. Hy is ’n spesifieke mens wat in ’n spesifieke tyd leef. Hy bevind hom in ’n era waar speel, sy ontsnaproete uit die vernedering van werk, toenemend geïnkorporeer word by die kapitalistiese logika. Eers het speel werk geword; in iemand se diens uitgevoer. Later het werk die kenmerke van speel oorgeneem en speel sodoende van enige gevaar, enige utopiese effektiwiteit, ontneem. Selfs die spelende self word ’n kommoditeit ...

Maar was hy regtig vry? [...]

Hy moes die rooi baadjie dra en agterna moes hy die skinkbord met klimtolle ronddra en die yo-yo’s verkwansel en hy was deel van ’n groot bemarkingstrategie ...

Hy was anders, ja, maar jy kan jou anders hou en jou eenkant hou maar as jy ’n geldskieter agter jou het, het jy ’n buiging wat jy moet maak en ’n hand wat jy moet soen.

Net kinders speel onverantwoordelik. (224)

Die wêreld het deels so speels geraak dat speel nie meer spring deur ’n vuurhoepel is nie, speel is nie meer gevaarlik nie ... (241)

Ludo Loeloeraai, verkneg aan die koeldrankmaatskappy. Wat hom en ander rooibaadjies soos hy in diens geneem het om die handelsmerk met speel te verkoop. Hulle is verkneg tot spel. Dit was die triek van die Amerikaners: vermom werk as speel. (266)

Hy sal weet hy’t homself opgevoer as toeriste-attraksie ... (63)


IV

Klimtol se protes is dus nie bloot teen werk as sodanig nie, maar teen ’n logika van verknegting wat toenemend tot gevolg het dat daar geen ruimte te vind is buite die kapitalistiese kommodifisering van alles nie; geen plek om heen te ontsnap nie; geen plek waar ’n mens meer soos Ludo vir sy pa kan sê “Speel is vir speel en dis anders as werk” nie.

En tog kry Van Heerden dit reg om ’n ruimte buite die logika van die kommoditeit, ’n hallusinatoriese buitenste ruimte, te verbeel; en om sodoende die droom van ’n meer speelse lewe in die spel te hou. Ek verwys hier natuurlik na Ludo Loeloeraai se visioene van ’n vlieënde piering:

En hulle deel hom daardie nag in die piering mee dat die geskiedenis van speel op aarde totaal gaan verander. Werk gaan verdwyn, en speel en toekyk hoe ander mense speel – dit gaan die mensdom se groot verdryf word.

Tydverdryf en werk gaan een word. En hy, so’t hulle hom meegedeel, is ’n vroeë profeet.

Terwyl ander mense visnette trek of treilers se enjins vervang of in kantore sit en papiere rondskuif of op die preekstoel staan en teksverse uitlê, terwyl hulle in die sweet van hulle aanskyn hulle brood verdien, gee hy die toon aan. (111)

Dit sou te maklik wees om Ludo se visioen sielkundig te reduseer tot simptoom van sy getraumatiseerde psige. Die vliepierings speel ’n meer fundamentele rol in hierdie roman; hulle is as’t ware Van Heerden se beste triek, ’n speelse bevestiging van die krities-utopiese potensiaal van die roman.

Met sy vliepierings gee Van Heerden die toon aan.

 


Lees ’n onderhoud met 'n klimtolkampioen


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top